Vier jaar gelede het Rassie Erasmus en die Springbokke die septer teen Engeland geswaai toe hulle die Wêreldbeker-eindstryd met 32 – 12 in Jokohama gewen het.
Druk die versnelknoppie so ʼn bietjie en die twee spanne is nou weer eens slaags in ʼn belangrike uitspeelwedstryd; dié keer in die halfeindstryd van die jongste rugbyskouspel in Frankryk.
En Erasmus meen dat die Rose allesbehalwe kanonvoer op die Stade de France sal wees.
“Dit beloof om ʼn taai toets te wees teen ʼn span wat nog nie ʼn wedstryd in die toernooi verloor het nie en wat net soveel punte soos ons in hul wedstryde aangeteken het,” het SA Rugby se direkteur van rugby gesê.
Volgens die amptelike Wêreldbekerstatistieke spog Suid-Afrika en Engeland met 180 punte op die amptelike telbord; die Bokke het egter sewe meer drieë (26 teenoor 19) as die bleekbene gedruk.
Erasmus waarsku dat die Bokke dit nie kan bekostig om na buitestanders te luister wat verkondig dat Engeland ʼn swak rugbyspan is nie.
“Jy kan sien hoe naby die wedstryd behoort te wees as jy na die statistieke kyk – tog weet ek dat statistieke nie altyd vir die volledige prentjie sorg nie. Terselfdertyd is Steve Borthwick ʼn uitstekende afrigter soos wat hy in sy tyd by Leicester Tigers gewys het.”
Hy weet ook dat Engeland lekker fiks behoort te wees. Aled Walters, Suid-Afrika se kondisioneringspesialis tydens die vorige Wêreldbekertoernooi, is nou in die Engeland-kamp.
“Ons gaan dus hard vir die wedstryd voorberei.”
Moet egter nie verbaas wees as Erasmus weer ʼn haas uit die hoed pluk vir die Engeland-wedstryd nie.
Die 50-jarige oudlosvoorspeler hou daarvan om toetse te wen en hy sal alles in die stryd werp om toe te sien dat Suid-Afrika weer in ʼn Wêreldbeker-eindstryd speel.
Die halfeindstryd begin Saterdag om 21:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.
Uitslae van laaste tien wedstryde tussen Suid-Afrika en Engeland:
Suid-Afrika 16 – 15 Engeland op Twickenham
Suid-Afrika 31 – 28 Engeland op Twickenham
Engeland 37 – 21 Suid-Afrika op Twickenham
Suid-Afrika 42 – 39 Engeland op Ellispark
Suid-Afrika 23 – 12 Engeland op die Vrystaat-stadion
Engeland 25 – 10 Suid-Afrika op Nuweland
Engeland 12 – 11 Suid-Afrika op Twickenham
Suid-Afrika 32 – 12 Engeland op die International-stadion in Jokohama

Is Rassie nou amptelik die Bokke se afrigter by die WB?
Wat het van ou Jacques Nienaber geword? Dra hy nou die water aan?
Nee, Rassie hanteer die emosie en lawaai om sodoende Jacques kans te gee om sy werk as afrigter te doen. Kan nie verstaan waarom Rassie so ‘n kopseer vir baie is nie. Al wat tel is wen, maak nie saak wie dra water en wie rig af nie. Gee bietjie krediet. Natuurlik het hy insette om te gee, dis sy werk.
Maak dit rerig saak…..is dit nie lekker om te wen wie ookal wat doen in die kamp?
Rassie is in enige kamp n aanwins. Vir wat die ewige gekerm oor hom. Die man doen goeie werk.
Ek stem saam – Rassie is uitstekend!
Behalwe vir Sewes. Die span boer agteruit en kan steeds nie kwalifiseer vir volgende jaar se Olympics nie.
Rassie is uitstekend. Massiewe verskil aan SA rugby gemaak.
Ek sien net 8 van die vorige 10 uitslae?
Aanvaar tog nou dat Rassie ‘n rugby-genie is…………
Ek dink Rassie doen goeie werk. Ongelukkig is daar altyd diegene wat kritiek lewer.