Rassie waag niks vir Poemas in Mendoza

Franco Mostert – terug in die beginspan (Foto GB Jordaan)

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, het Sondag gesê dat hy vier of selfs vyf veranderings aan die groep oorweeg wat die Argentynse Poemas in Durban in die Rugbykampioenskap geklop het, maar hy het daarteen besluit.

Die Springbokke pak die Poemas Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) in Mendoza en Erasmus het net een verandering in die opdrafspan, dié van die slot Franco Mostert in Pieter-Steph du Toit se plek, gemaak.

Du Toit skuif bank toe en RG Snyman is in Marvin Orie se plek op die bank ingesluit, terwyl Wilco Louw in Thomas du Toit se plek op die bank is.

Die lynstaan-verstandhouding tussen Mostert en die haker Malcolm Marx sal beslis heelwat beter wees, want hulle speel al ʼn hele paar seisoene saam.

Dit was een van die leemtes wat in Durban oopgevlek is toe Marx ʼn hele paar keer nie sy springers kon vind nie (Du Toit het die lynstaantekens geroep), maar nou is daardie probleem straks op die rak geplaas.

Agterlangs het Erasmus dieselfde groep behou, hoewel daar bespiegel is dat hy ʼn paar proefnemings sou doen.

Nou het hy vertroue geskep, kontinuïteit behou en gee hy die kombinasies nog ʼn kans om te oortuig.

Kom ons wees eerlik, behalwe een of twee spelers wat dalk oorsee speel, is daar nie beter spelers vir Suid-Afrika nie.

Ja, dalk is Damian de Allende en Jesse Kriel ʼn beter senterpaar, maar sou dit so groot ʼn verskil gemaak het?

Die groot vraag bly steeds: Sê nou maar Willie le Roux, Handré Pollard of Faf de Klerk kry seer, wat dan?

Die Springbokke reis Vrydag na Mendoza nadat hulle die afgelope paar dae in Buenos Aires voorberei het.

Die Springbokspan ‒

15. Willie le Roux, 14. Makazole Mapimpi, 13. Lukhanyo Am, 12. André Esterhuizen, 11. Aphiwe Dyantyi, 10. Handré Pollard, 9. Faf de Klerk, 8. Warren Whiteley, 7. Siya Kolisi (kaptein), 6. Francois Louw, 5. Franco Mostert, 4. Eben Etzebeth, 3. Frans Malherbe, 2. Malcolm Marx, Beast Mtawarira. Bank: 16. Bongi Mbonambi, 17. Steven Kitshoff, 18. Wilco Louw, 19. RG Snyman, 20. Pieter-Steph du Toit, 21. Embrose Papier, 22. Lionel Mapoe, 23. Damian Willemse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tom Nel ·

As Willie le Roux seerkry sal dit bedekte seën wees, hy is volslae nar op die rugbyveld en absoluut pateties, ons het beter maar Rassie is in elk geval net so deurmekaar.

Snuffels ·

Tom…. Arme Tom, dit is duidelik Dat jy nie veel kennis dra van rugby nie of dit seker kyk nie. Willie is een van ons voorste spelers en ons gaan sukkel as hy nie daar is nie. Hy het die seisoen die “ondersteuners speler van die jaar” toekenning by Wasps ontvang. Hy was uitgesonder deur die New Zealand media en vorige spelers as n exceptional player… Dink ons Kan maar luister na wat hulle te se het. So kom ons hoop maar Dat Willie sy huidige goeie vorm Kan voortsit… Die Bokke het dit nodig!

Heinrich ·

Ek was op ‘n stadium nie ‘n groot aanhanger van Willie nie maar ek moet se die jaar speel hy baie beter as die vorige keer wat hy in die bok span was. Hy bring iets anders na die bokke wat geen van die heel agters in die land huidiglik kan doen nie. Kom ons hoop maar Handre se skop skoen is beter die keer want ek het so gevoel as hy nie die skoppe gaan oorsit nie gaan ons sukkel in Mendoza. Baie goeie span ek dink nie ons kan veel verander nie.

lollie ·

Daar sal altyd ‘n hoop bollie wees tussen al die goeie dinge wat Willie doen. Hy is net daai tipe speler. Hy is ten minste skeppend en het x-faktor wat meestal ontbreek in die agterlyn. In die huidige agterlyn waar daar nie veel aangaan nie, is sy insluiting ‘n noodsaaklikheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.