Rassie (weer) in die leeukuil

Rassie Erasmus (Foto: sudrugby.com)

Rassie Erasmus (Foto: sudrugby.com)

Rassie Erasmus se laaste dag by die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru)  het nog nie aangebreek nie en sy trek is dalk al op die skip op pad na Ierland waar daar baie hoë verwagtinge is oor hoe hy ( en Jacques Nienaber) by Munster sal vaar.

Die loting vir aanstaande seisoen se Kampioeneliga is Woensdag gedoen. Munster het aan die diep kant beland, want dié Ierse provinsie ding saam met die nuwe Franse Top14-kampioenspan Racing 92,  Leicester Tigers  en die Glasgow Warriors in ʼn groep mee.

En Erasmus moet kom red, want Munster is in tamatiestraat.

Erasmus, wat as Munster se direkteur van rugby aangestel is,  is baie geloof vir die werk wat hy by Saru gedoen het, maar op die oog af het dinge al hoe meer agteruit geloop.

Die Bokke het maar geploeter teen ʼn verswakte Ierse span; die Suid-Afrikaanse ‘A’-span is twee keer bloedneus gegee deur die Engelse Saxons, die Junior Springbokke  was bra eina by die o.20-Wêreldtoernooi in Manchester en het twee keer (erg) slae gekry teen Argentinië en ook teen Engeland.

Vooraf is daar gesê talentvol die groep is, nou word daar gesê ‘hou hulle maar volgende jaar dop’. En wat gaan in ons vroue-rugby aan?

Alles kan natuurlik voor Erasmus se deur gelê word nie, want dit kan nie maklik wees om rugby in Suid-Afrika te dien nie. Daar is alewig  iemand wat oor jou skouer loer, daar is oningeligte politici (soos Tony Ehrenreich) wat ʼn eiertjie oor alles te lê het en dan praat ek nie eers van wat in Saru se raadsale aangaan nie.

Almal wil baas wees, almal weet van beter.

Dié dinge moes ʼn baie groot rol gespeel het, maar dis nie die rede waarom die meeste spanne, op senior- en junior vlak, steeds by stampkar-rugby (ek sluit die Lions vanselfsprekend hier uit) vasgehaak het nie.

Iemand moes tog ʼn leidende rol gespeel het, iemand mos tog vir die afrigters laat weet het hulle gebruik nog 2007 se bloudruk, iemand moet tog pa staan daarvoor?

Erasmus se waarde sal nou besef word, ­want Munster het ook probleme, op en van die veld af. Die span het ʼn groot insinking beleef, spankeuses en afrigting word bevraagteken en hulle is op soek na ʼn vars briesie, soos die Samoaan Pat Lam by Connacht.

Nou stap Erasmus in daardie Munster-leeukuil in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Callie ·

Besef die mense regtig die impak wat kwotas op spanne veroorsaak. Groot aantalle spelers wat regtig potensiaal het verloor belangstelling of gaan speel in die buiteland. Neem SA A wat sonder twyfel die spelers moes wees wat volgende in die ry staan vir die Springbokke. Dit was glad nie die geval nie. Kwotas was oorheersend. Die volgende groep wat Springbok moet word het dus belangrike ondervinding misgeloop. Sulke ondervinding is nou verlore so die speler het nog steeds geen ondervinding van die volgende trappie op nie.

Ongelukkig werk dit regdeur tot op skoolvlak so. Op die manier sal standaarde bly verlaag tot die land geen erkenning kry van die top rugby lande in die wereld meer nie. Dit is hoekom Graham Henry noem dat die Springbokke hulle trots stadig maar seker, stukkie vir stukkie verloor.

Fanus ·

Daar bestaan nie meer so iets soos Sprinbok Rugby nie, net protea rugby rugby, die naam moet nog net verander.

Fanus ·

Daar bestaan nie meer so iets soos Sprinbok Rugby nie, net protea rugby, die naam moet nog net verander.

Vaalpiet ·

Voorspoed Rassie daar is darem een probleem nie en dit is die verpligte kwotas

Charl ·

Dis al ‘n geruime tyd nie meer die Springbokke nie. Vir die eer en glorie van die Springbok en die wat die trui met trots en passie gedra en ondersteun het – kan ons nou nie asb die Bok in glorie laat sterf met wat oor is van die Springbok rekord/geskiedenis nie? En die transformsie span, die Proteas noem en toe laat om ‘n nuwe geskiedenis te begin nie – want erken dit nou maar, die verandering gaan nie gestop word nie! Vir geen rede nie. Ten minste sal die Proteas die ware stand van sake reflekteer …Dan kan ons na ‘n paar jaar vergelyk met feite en nie bespiegel nie….Dan sal die Wereld se kommentaar geregverdig wees en die Bok geskiedenis veilig en regverdig vir nageslagte bewaar wees…
Voorspoed Rassie en ander oorkant die water- hou aan om ons trots te maak!

Cjan ·

Fanus ek stem saam, Bok rugby is verby, protea rugby gaan nou gespeel word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.