Rassie word deel van die Britse Baabaas se ryke tradisie

Die Springbokafrigter Rassie Erasmus sluit hom op 1 Desember aan by die byna 70 Springbokke, insluitende 13 toetskapteins, wat lid van die tradisieryke Britse Barbarians is wanneer hy hulle vir hul wedstryd teen die Poemas afrig.

Erasmus is genooi om die Barbarians af te rig vir die wedstryd op Twickenham waarvoor Handré Pollard, Eben Etzebeth en Beast Mtawarira reeds genooi is. Dit is ook bekendgemaak dat die Wallabies-skrumskakel Will Genia deel van die Barbarians-span sal wees

Die res van die span sal later aangekondig word, en dit is seker dat van die wêreld se beste spelers die Poemas dié dag sal probeer afslag soos die Barbarians vroeg vanjaar toe hulle met 63-45 teen Engeland gewen het.

Springbok-grotes soos onder andere Frik du Preez, Danie Gerber, Bakkies Botha, Schalk Burger, Bryan Habana, Fourie du Preez, PK Albertyn, Hennie le Roux, Victor Matfield, Ferdie Aston, JEC Partridge en James Small, tel onder die vele Bokke wat sedert die 1890s vir die Baabaas gespeel het.

Partridge was die heel eerste speler van Pretoria (1903, Harlequins) wat toetsrugby gespeel het; en Ferdie Aston het Suid-Afrika in 1896 in drie toetse aangevoer, maar het reeds in 1891, as klubspeler in Engeland, vier keer vir die Baabaas uitgedraf.

“Dit is ʼn baie groot eer en ek sien daarna uit om weer met ʼn span te werk wat vanjaar teen die Poemas speel,” het Erasmus oor sy aanwysing gesê. “Die Barbarians is daarvoor bekend dat hulle van die wêreld se beste toetsspelers nooi en die uitdaging vir die afrigter is om hulle in  ʼn span saam te snoer wat goeie én mooi rugby speel, soos vroeër vanjaar in die wedstryd teen Engeland.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.