Rasta sit nie stil in afsonderingstydperk nie

Rasta Rasivhenge. Foto: ANA.

Rasta Rasivhenge, een van Suid-Afrika se voorste rugbyskeidsregters, kan weliswaar nie wag dat rugby weer eendag hervat word nie, maar dit beteken glad nie dat hy sit en niks doen by die huis nie.

“In die aanloop tot die staat van inperking was ek aan diens in Australië en moes vroeër huiswaarts keer. Sedertdien is ek gereeld besig met videokonferensies, terwyl ek twee keer per dag oefen,” het hy aan www.springboks.rugby gesê.

“In my vrye tyd bring ek tyd deur saam met my gesin; ek lees ook, doen ’n bietjie selfondersoek en skerp my kosmaakvaardighede op.”

Net soos wat Jaco Peyper vroeër gesê het, het SA Rugby ’n goeie tuisoefenprogram vir sy skeidsregters geskep sodat hulle skerp en fiks gedurende die afsonderingstydperk kan bly.

Volgens Rashivenge verlang hy egter daarna om die gimnasium te besoek en op die rugbyveld te oefen.

Van die skeidsregters se aanlyn besprekings het al sessies met ’n skrumafrigter, ’n dieetkundige en selfs ’n krieketskeidsregter ingesluit.

“Ons kan op die tegniese en taktiese aspekte van die spel fokus, terwyl ons ook van ons individuele ervarings met mekaar deel.”

As hy klaar gewerk en geoefen het, speel hy ’n rukkie met sy katte (Milo en Itzy) terwyl hy ook ’n bietjie in die kombuis werskaf.

“Ek kook nou meer vandat ek tuis is, dus speel ek ’n bietjie in die kombuis rond en toets my vaardighede.

“Ek het vantevore nie die vaagste benul gehad hoe mens lemoenpampoentjies gaarmaak nie, maar ek glo ek het dit nou onder die knie. Ek het ’n lekker maalvleisdis saam met die groente voorberei. Ek dink egter my lamstjoppies is beslis ’n wenner!”

Elke Saterdagmiddag deel hy ook sy skeidsregterervarings met rugbyliefhebbers van oor die wêreld deur middel van ’n opvoedkundige program, Rugby Tackling Life.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.