Ratse wedstrydwenner gedoriewaar toe ook uit SA

Michael Reid (Foto: PRO Rugby USA)

Michael Reid (Foto: PRO Rugby USA)

Die ratse skrumskakel wat Saterdag opspraakwekkend die wedstryd vir die groentjie Austins Huns in die Amerikaanse Senior Rugbykampioenskap beklink het, is gedoriewaar toe ook `n Suid-Afrikaner.

Dié feit is deur Michael Reid se pa, Robin, uit Purcellville in die Amerikaanse deelstaat Virginië, onder Pale Toe! se aandag gebring nadat die rugbywerf oor Suid-Afrikaners se rol in die skoksege berig het.

Reid sr laat weet Michael is in Durban gebore en was 12 toe die gesin na Amerika verhuis het.

Sy drie in die 84ste minuut het die Huns, wat deur die Suid-Afrikaner Eugene (Loffie) Eloff afgerig word en die eerste keer in groot geselskap speel, in staat gestel om vir `n groot skok te sorg deur die sewemalige Amerikaanse klubkampioen, Old Mission Beach Athletic Club (OMBAC) van San Diego, 24-21 te klop.

Reid het `n tikskoppie gegee ná `n strafskop aan die Huns toegeken is, en voor OMBAC se spelers hul oë kon uitvee, was hy soos blits oor die doellyn.

Michael het op vyf by Crusaders in Northwood, Durban, begin rugby speel en het in sy o.10- en o.12-jare vir Pirates in Johannesburg se jeugspanne uitgedraf.

Ná die gesin se verhuising na Amerika het hy die Amerikaanse Hoërskolespan (o.14) gehaal wat na Suid-Afrika en Brittanje (met wedstryde teen Wallis en Noord- Engeland) getoer het. Michael is ook die volgende jaar saam toe die span Chili, Uruguay en Argentinië besoek het, en was daarna nog twee keer op toer na Argentinië.

Michael het sy skoolopleiding in Nieu-Seeland voltooi en het in 2014 vir Taranaki o.19 gespeel, waar hy van 2013-2015 aan die Taranaki-akademie verbonde was. Hy het klubrugby vir Spotswood United (Spotty Dogs) gespeel.

Hy het eweneens in 2014 vir die Amerikaanse o.20-span uitgedraf wat in Hongkong aan die reeks om die Junior Wêreldtrofee deelgeneem het.

Michael het einde 2015, begin verlede jaar saam met die Sharks geoefen voor hy by die San Francisco Rush in die Amerikaanse beroepsliga aangesluit het.

Reid sr sê Eloff het Michael einde verlede jaar genader om by die Huns aan te sluit, en “hy geniet dit geweldig … `n wonderlike groep spelers en uitsonderlike afrigters”.

Hele tros skrumskakels

 Reid is een van `n hele tros skrumskakels met Suid-Afrikaanse wortels wat groot opgang in Amerikaanse rugby maak.

Shaun Davies, wat vir die Arende in die aanstaande reeks om die Amerikas-rugbykampioenskap (ARC) gekies is, is nes Reid in Durban gebore en het verlede jaar die naaswenner in die Amerikaanse beroepsreeks, Ohio Aviators, aangevoer.

Dié oudleerling van Westville Boys High het in 2013 vir Amerika in `n toets teen Rusland gespeel.

Niku Kruger, `n Pretorianer van geboorte en seun van die akteur Ben Kruger, het Amerika reeds in ses toetse verteenwoordig, onder meer in 2015 se toernooi om die Wêreldbeker.

Ruben de Haas het Amerika se o.18-span vroeg vanjaar aangevoer, en verlede jaar reeds die land se o.20-span verteenwoordig. Sy pa, Pieter, en oupa, Gerard, het albei Curriebekerrugby in Suid-Afrika gespeel.

Charlie Purdon, wat op Cathcart in die Oos-Kaap gebore is en vir die Sharks se o.21-span gespeel het, het verlede jaar vir die San Diego Breakers in die beroepsliga die oond skoongemaak.

Steeds op die Amerikaanse vasteland speel die skrumskakel Beukes Cremer Vrydag in sy 14de toets vir Brasilië sedert sy buiging in 2015 vir dié land. Hy het onderouderdomrugby vir die Oostelike Provinsie gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.