ʼn Mens besef nie aldag hoe goed Ray Mordt werklik was nie.
Dié gewese Springbok-regtervleuel het tussen 1980 en 1984 in 18 toetse vir die Springbokke gespeel en 12 drieë gedruk.
Wie sal ooit sy juweel-driekuns teen die All Blacks in die beslissende derde toets in 1981 in Auckland kan vergeet?
Dit terwyl die meel- en rookbomme uit ʼn laagvlieënde vliegtuigie op die spelers neergereën het en die loods ook gedreig het om in die hoofpawiljoen vas te vlieg as die toets nie stopgesit sou word nie.
Een van die meelbomme het die All Black-stut Gary Knight agter die kop getref en hy was katswink.
Harsingskudding? Watwou, jy speel mos vir jou land!
Vir die rekord: die All Blacks het ondanks Mordt se drieë die omstrede toets met ʼn nog meer omstrede beslissing deur die Walliese skeidsregter Clive Norling met 25 – 22 gewen om die reeks met 2 – 1 te beklink.
Mordt het na Johannesburg verhuis en het 1982-’83 vir Transvaal gespeel en ook in 1984-’85 vir Noord-Transvaal. Volgens die argiewe het hy 35 drieë in sy loopbaan gedruk.
Maar wat niemand besef nie, is dat Mordt Zimbabwe/Rhodesië se tweede grootste driedrukker (34 drieë tussen 1977 en ’80) naas Eric Barrett (38 drieë in 82 wedstryde in 15 seisoene) van alle tye is.
Mordt het boonop 16 drieë vir Wigan in die strawwe Engelse rugbyliga in 1986-’87 gedruk voordat beserings hom langs die kantlyn gedwing het.
Mordt was skaars 20 toe hy sy buiging vir die destydse Rhodesië in 1977 teen die Westelike Provinsie gemaak het.
Die dag het Rhodesië die WP, wat deur Morné du Plessis aangevoer is, met 18 – 9 geklop en Mordt het sy loopbaan met ʼn drie ingewy.
Ná die wedstryd het die Springboksenter Ian Roberson die jong Mordt as ʼn tweede Gert Muller beskryf.
Saam met Robertson, nog ʼn Springbok David Smith, Chris Rogers, die All Black-agtsteman Alan Sutherland (wat die span se speler/afrigter was), Danny Delport en Ian Buchanan, het hulle Suid-Afrika se Curriebekerspanne gas gegee.
Hulle het onder meer die WP (18 – 9 in Salisbury) en Natal (18 – 13 en 22 – 13) geklop, en die seisoen slegs teen die Vrystaat en WP (op Nuweland) verloor.
Mordt het twee keer in sy loopbaan vir Rhodesië (teen Griekwas en die Oostelike Provinsie) drie drieë in ʼn wedstryd gedruk.
Dus, wanneer daar oor Suid-Afrika se beste regtervleuels gesels word, oorweeg maar vir Ray Mordt ook.
Dit was mos nou ‘n Springbok vleuel. Kon om, deur, en bo-oor mense hardloop. En verdedig. En ‘n klap of twee uitdeel as dit moet.