Rebels laat Reds met rooi gesigte

Foto: Superrugby/Twitter

Die Rebels het Saterdagoggend in Brisbane die spinnerakke van hul twee trietsige vertonings op hul toer deur Suid-Afrika afgestof toe hulle die Reds met 32-13 geklop het.

Die Rebels was rustyd met 18-6 voor en het die voortou in die Australiese afdeling geneem nadat die Waratahs vroeër deur die Sunwolves in Newcastle geskok is.

Dit was geen goeie vertoonvenster van aanskoulike rugby nie, want die glibberige bal het hantering bemoeilik.

Die Rebels, wat deur die oud-Suid-Afrikaner Dave Wessels, afgerig word, was klinies, het voor oorheers en hul foute beperk sonder om die wêreld aan die brand te speel. Hulle het die ou cliché in rugby dat jy kort voor rustyd en kort ná rustyd punte aanteken, vervolmaak en dit het die Reds teen die planke gehad.

Die hoogtepunte (daar was maar min) is deur die Rebels-vleuel Jack Maddocks gelewer toe hy twee drieë gedruk het. Maddocks, wat baie na aan die Wallaby-toetsspan moet wees, het nou reeds nege drieë in vanjaar se Superreeks gedruk.

Plaas dit in perspektief, die Stormers het vanjaar in ses wedstryde ook maar net nege drieë gedruk.

Dit was ook ʼn triomfantlike terugkeer na Brisbane vir die Rebels se skakelpaar, Will Genia en Quade Cooper. Tensy die Wallaby-afrigter Michael Cheika ander idees het, behoort hulle ook vanjaar die Wallabies se beginspan te wees. Hulle bring darem opwinding, het visie en skep kanse vir die buite-agterspelers.

Wat wag vorentoe op die Rebels en Reds? Die Rebels speel Saterdag in Melbourne teen die Sunwolves en behoort te wen, hoewel die Japanners nog baie woelinge in Sanzaar se wandelgange kan meebring omdat hulle van 2021 af nie meer in die Superreeks mag speel nie. Die Reds speel Vrydag tuis teen die Stormers en as daar ooit ʼn kans was vir die Stormers was om te wen, is dit teen die Reds.

Punte
Rebels 32 (18): Drie
ë: Jack Maddocks (2), Aanaru Rangi, Rob Leota. Doelskoppe: Quade Cooper (3). Strafdoele: Cooper (2).

Reds 13 (6): Drie: Taniela Tupou. Doelskop: Bryce Hegarty. Strafdoele: Hegarty (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.