Reds druk sewe teen Kings en wen slegs hul tweede

Die Kings het werklik geglo hulle kan die Reds in Brisbane klop, maar is Saterdag in veral die derde kwart deur die tuisspan uitmekaar gespeel en het met 34-47 verloor.

Die Kings was rustyd met net 10-14 agter, maar toe het die Reds losgetrek en vyf van hulle sewe drieë teen net een in die volgende 22 minute gedruk en met 47-17 voorgeloop.

Die Kings het in alle afdelings goeie teenstand gegee, maar hulle verdediging was ongeorganiseerd en daar was te dikwels spelers oor wanneer die tuisspan aangeval het.

Drie drieë in die laaste kwartier toe die tuisspan met hulle bankspelers klaargekom het, het die Kings se telling darem redelik mededingend laat voorkom. Die Kings het daarmee hulle drieëtal na vyf in die wedstryd geneem.

Om egter die Kings se neerlaag in perspektief te stel: dit was slegs die tweede oorwinning van die Reds in hulle agt wedstryde tot dusver. Hulle ander oorwinning was oor die Sharks in die eerste ronde met 28-26.

Vir die Kings het die vleuel Makazole Mapimpi weer die oog op die aanval getrek terwyl Louis Schreuder op skrumskakel moontlik die Kings se beste op die dag was.

Puntemakers –

Reds (14) 47: Drieë: George Smith, Eto Nabuli 2, Zaia Perese 2, Karmichael Hunt 2. Doelskoppe: Quade Cooper 6.
Kings (10) 34: Drieë: Chris Cloete, Louis Schreuder, Makazole Mapimpi 2, Masixole Banda. Doelskoppe: Lionel Cronjé 2, Pieter-Steyn de Wet. Strafdoel: Cronjé.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.