Reën, hael en die Goue Beker!

Pierre Spies op pad na die Ligbloues se wendrie in 1975

Pierre Spies op pad na die Ligbloues se wendrie in 1975

Reën en hael … enige rugbyspeler se nagmerrie.

Toe ek Vrydagoggend op die nuus sien hoe dit Donderdag weer in Bloemfontein gehael en gereën het, het ek teruggedink aan 27 September 1975.

Dit was in die dae voor vooruit-weerskattings, toe dit sowat twee uur voor die Curriebeker-eindstryd in Bloemfontein begin reën, en reën en reën het.

Nie die Vrystaat òf Noord-Transvaal was daarop voorberei nie, en tog was dit een van die epiese eindstryde in die annale van Suid-Afrikaanse rugby.

Noord-Transvaal, wat die eindstryde in 1946, 1956, 1968, 1969, 1973 en 1974 gewen het, het teen ʼn balvaardige Vrystaatse span gespeel wat die eerste keer tuis in ʼn eindstryd gespeel het.

Die vyf hotelle in Bloemfontein (die ou Landdros, Halevy, President, Naval Hill en die Cecil) was vol bespreek en die meeste Noord-Transvaalse ondersteuners moes deurry, reg in die storm net buite Bloemfontein.

Die ou Vrystaatse stadion – daar was g’n sprake van groen wintergras nie –  het nie behoorlike dreinering gehad nie, want wanneer reën dit tog in die winter in die Vrystaat?

Jy het ook ver van die speeloppervlak gesit, want daar was ʼn tartan-atletiekbaan en ʼn sement-fietsrybaan, en dan eers die volgepakte hoenderstellasies.

Noord-Transvaal se oud-Natalse vleuel Keith Thoresson, het twee strafdoele oorgeklits. Die wedstryd was met die telling op 6-0 in die sakkie, veral toe dit weer begin reën en hael het.

Maal en dryf, maal en dryf – en die opdrag aan die losskakel Lennie Gerber was om die bal veld af sool.

Die vaalgrys kort wintergras het eensklaps in ʼn modderbad verander … en toe druk die Vrystaatse senter Pikkie du Toit, ʼn drie in die 77ste minuut. De Wet Ras se doelskop was in die kol … en die telling was 6-6.

Dr Danie Craven en André Volsteedt, die Vrystaatse rugbybaas, was reeds op pad af veld toe om die beker aan albei spanne te oorhandig toe die Noord-Transvaalse senter Christo Wagenaar ʼn hoekskoppie gegee het. Dit het op ʼn minder modderige kol geval en hoog gewip. Pierre Spies het eers op volle vaart basketbal daarmee gespeel voordat hy die bal bo sy kop met die een hand onder beheer gekry het. Kleintjie Grobler en Gerrie Germishuys kon nie keer nie.

Die Goue Beker was weer op pad Pretoria toe.

Een van die mooiste staaltjies oor die eindstryd was dat Joubert Strydom, wat dié dag ʼn baljoggie was, die wedstrydbal jarelank bewaar het. Toe Pierre Spies (sr) ʼn paar jaar gelede oorlede is, het hy dit aan Pierre (jr) oorhandig.

Dis hoekom dit ʼn mens so briesend maak dat die Curriebekerreeks afgewater word!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Pietman ·

Dankie. Dis waar Curriebeker vandag is eerder ‘n Vodacomreeks.

Scalla ·

Dit was my eerste groot rugby wedstryd op n stadion wat ek gaan kyk het as st 5 leerling, goeie dae, dis seker hoekom ek nou nog n bulle onderseuner is.

Wally Walters ·

Dis seker net afgewater omdat die skrywer nie n cheetah is nie.Wanneer laas was n toets in enige Suid -Afrikaanse stadion uitverkoop.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.