Reën vir stryd tussen Bokke en All Blacks voorspel

Die All Blacks doen die haka voor hul wedstryd teen Tonga op 7 September. Foto: (Andrew Cornaga/Photosport via AP)

Wat gebeur as dit Saterdag in Jokohama in Japan in die Wêreldbeker-wedstryd tussen die Springbokke en All Blacks reën?

Watter span sal die vinnigste by die toestande kan aanpas, dit onder die knie kry?

Daar word gesê dat die All Blacks beter as enige ander span in die Suidelike Halfrond op ʼn nat veld kan aanpas, omdat hulle van jongs af in sulke toestande speel.

Maar vra my, hulle haat dit om in reën te speel, want dit kan ʼn demper daarop plaas om hardlooprugby te speel, om hul teenaanvalle te loods, om die bal te rek.

Volgens die weervoorspellers is daar ʼn 60%-kans dat dit Saterdag in Jokohama kan reën en dat die temperatuur 20 ˚C sal wees.

Dit kan in die Bokke se guns wees, want hulle maak al hoe meer op Faf de Klerk se hoë hangskoppe staat.

Handré Pollard lê ook die skoen gereeld in en Willie le Roux maak van agter af seker dat hy die bal diep in die teenstanders se gebied skop.

Maar moet vir geen oomblik dink dat die All Blacks ook nie die skoen inlê nie.

Gaan kyk maar na die statistieke, Aaron Smith en Richie Mo’unga skop net soveel soos die Bokke, hoewel dalk ʼn bietjie meer akkuraat en takties in die kol.

As De Klerk nie akkuraat genoeg is nie en as hy te diep of te vlak skop, kan dit die Bokke duur te staan kom, want dan word besit weggegee en maak dit die deur oop vir die All Blacks om met teenaanvalle die Bokke se verdedigingspatroon onder druk te plaas.

Reën was nog altyd ʼn gelykmaker, maar soms ook ʼn span se grootste vyand.

Die Springbokke na hul wedstryd teen Japan op 6 September. Foto: (AP Photo/Shuji Kajiyama)

In 1998, toe die Springbokke nog Curriebekerrugby gespeel het, was Griekwaland-Wes op die kruin van die golf.

Onder André Markgraaff en sy adjudant, Swys de Bruin, het die Poubloues bo-aan die puntelys ná die groeprondes van die Curriebekerreeks geëindig.

Hulle het die Blou Bulle (18 – 15), Natal Sharks (23 – 17), Cheetahs (48 – 28), Goue Leeus (36 – 16) en Pumas (64 – 7) geklop.

Hulle het uiters vaardige en vindingryke spelers soos Robert Markram, Lourens Venter, Jearus Nicholas, Boeta Wessels, Gaffie du Toit, Dave von Hoesslin, Albert van den Berg en Philip Smit gehad.

Hulle het drieë by die dosyne gedruk en waar die halfeind diep in Oktober in Kimberley teen die Westelike Provinsie gespeel moes word, was die hitte en harde veld hul grootste bondgenote.

Die tafel was gedek om die WP van hul voete af te hardloop.

Maar toe begin dit die Vrydag voor die halfeindstryd reën, en dit reën en reën.

Die WP het maklik met 27 – 11 gewen.

Wat gaan Saterdag gebeur as dit ook reën?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Siener ·

‘n Goeie span sal nooit eksterne faktore soos wind, reen, koue, ens blameer vir hulle swak vertonings nie. Dis waarom ‘n goeie span gewoonlik aanpas en na die fluitjie geblaas het as wenner wegstap. Veranderlike onstandigehede soos reen moet aanvaar word en rondom dit aanpas maar moet nooit as verskoning gebruik word nie. “Winners don’t Cry, They adapt and WIN”

Valerie ·

Inderdaad; dit reën aan albei helftes van die rugbyveld. Die ABs behoort die een maklik te wen; ek reken hul grootste opposisie gaan van Engeland of Frankryk kom; dalk Ierland (as hulle kan volhou).
As ek ‘n buiteperd moet kies en geld daarop plaas, sal dit Argentinië wees. Ek sien nie SA in die eindstryd nie; op en af soos ‘n yoyo.

Balbesit ·

Behou balbesit en moenie doelloos skop nie. Opskiet verdediging kan werk , maar moenie gate maak of duikslae mis nie en duik hul aggressief sodat hul veld verloor en foute maak. Plaas AB onder druk veral by losskrums. Wen jou bal by vaste fasette en wanneer Springbokke geleentheid kry om punte aan te teken moet hul dit vat en nie foute maak nie. Speel tot eindfluitjie blaas en plaasvervangers moet regte tyd as impakspelers opgesit word. Sterkte aan die Bokke. Gaan n harde een wees.

Nat balle ·

Die All-Blacks oefen die hele week nog met balle wat doelbewus nat en glad gemaak is sodat hulle voorbereid is vir die reenerige toestande. Het Rassie aan dieselfde gedink?

Poot ·

Jy kan die hele week met nat en glad gesmeerde balle oefen so veel jy wil. As dit op die dag van die wedstryd nie vir jou werk nie…. werk dit nie vir jou nie.

Dubbelloop ·

Dit gaan n yaai westryd wees. Miskien nie aanskoulik nie. Ek hopp die bokke kan die een deur trek, maar gaan nie maklik wees nie. Hulle moet by hulle spelplan bly, maar as dit nie werk nie moet hulle kan verander.

Nico K ·

Dit is nogal ironies dat die All blacks met hulle nat toestande, eintlik die meesters is met hardloop rugby. Hulle doen goed op droë velde soos Loftus en Elispark. Miskien geniet hulle die droë velde so baie omdat hulle heeltyd by die huis in die modder moet ploeter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.