Reën, wind en Wallabies wag in Perth op Bokke

Morné Steyn (Foto: GB Jordaan)

Morné Steyn (Foto: GB Jordaan)

Behalwe `n Wallabyspan wat opgewerk is ná sy yslike pak slae teen die All Blacks, sal die Bokke Saterdag in Perth waarskynlik ook weer met wind en reën te doen kry.

Die vooruitvoorspelling sê Wes-Australië se hoofstad gaan Saterdag frontale reën en sterk wind kry, en dit kan dalk `n rol speel in Heyneke Meyer se spankeuse en die Bokke se spelpatroon.

Dit versterk Ruan Pienaar en Morné Steyn se kanse as skakelpaar. Hulle het albei goeie ondervinding van nat toestande en Pienaar het een van sy beste toetse in Loftus se hael en reën teen die Poemas gespeel.

François Louw en Bryan Habana het ook baie sulke ondervinding, maar hulle is seker keuses.

Maar of dit nou nat of droog is, die Bokke weet daar wag `n yslike uitdaging op die pak voorspelers – in die skrums, lynstane én by die afbreekpunte. Die Wallabies sou baie moed en bravade geskep het uit die manier waarop die Poemas die Bokke oordonder het.

Dit klink of Adriaan Strauss die haker gaan wees, deels sodat Bismarck du Plessis bietjie bene kan rek voor die toets teen die All Blacks op 13 September.

Jannie du Plessis sal teen wil en dank moet speel, want hy is die enigste vaskopstut wat met vertroue ingespan kan word nadat die proefnemings met Coenie Oosthuizen misluk het. Hý is in elk geval tans op die krukkelys en dis twyfelagtig dat Meyer sal verkies om met Trevor Nyakane te begin.

Op loskop het Tendai Mtawarira nou heeltemal van sy nekprobleme herstel en hy is fiks verklaar om Guthrö Steenkamp in die vyftiental te vervang.

Op slot is Eben Etzebeth en Victor Matfield die aangewese paar, met hulp van óf die ervare breker Bakkies Botha óf Lood de Jager.

Dit laat ons met die senterpaar, waar Meyer moet besluit wie van die twee binnesenters Jan Serfontein en Damian de Allende Jean de Villiers se maat op buitesenter moet wees.

Saterdag se fluitjieblaser is George Clancy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.