Reënboogbeker: Lions tem die Bulls

Argieffoto van Burger Odendaal (Foto: Burger Odendaal/Facebook)

Daar is niks so lekker vir ʼn rugbyspan soos om die vrugte te pluk wanneer hy maande, en selfs jare lank, aan die agterspeen moes suig nie.

Dis hoekom die Lions-spelers en afrigtingpan so bly was toe die eindfluitjie Saterdagmiddag op Ellispark geblaas het in die Reënboogbekerwedstryd teen die Bulls.

Die Lions, wat met rustyd met 20-19 voor was, het die kragmeting met 34-33 gewen. Dit was hul eerste oorwinning in vanjaar se reeks en ook die eerste keer dat die Bulls slae gekry het.

Dit was ook die Lions se eerste oorwinning sedert 2018 oor die Bulls toe hulle met 38-12 in ʼn Superrugbywedstryd baas was.

Hulle was ook in 16 van hul laaste 22 wedstryde teen die Bulls aan die verloorkant en het hul laaste ses wedstryde op ʼn streep teen die Bulls verloor.

Die Bulls, wat in ’n stadium in die tweede helfte gerieflik met 33-20 voor was, het dit sekerlik nie verwag nie.

Dié keer het die Lions se plaasvervangersbank ʼn groot verskil gemaak en nuwe energie verskaf, terwyl die Bulls aan die einde tam voorgekom het.

Met Jaco Visagie, MJ Pelser, Vincent Tshituka (hy was Speler van die Wedstryd) aan die spits en plaasvervangers soos Ruan Dreyer, Asenathi Ntlabakanye en Willem Alberts soos gewonde diere, het die Lions voorlangs die grondslag gelê.

Agterlangs was EW Viljoen veilig onder die hoë bal en het die plaasvervanger-losskakel, Fred Zeilinga, in die laaste 20 minute ʼn spogvertoning gelewer.

Waar die Lions verlede week teen die Stormers so naby aan ’n oorwinning gekom het, maar in die doodsnikke verloor het weens ʼn gebrek aan ervaring, was die skoen aan die ander voet. Hulle het hul skrale voorsprong skitterend verdedig, hulle het hul besit baie goed beskerm en in die laaste twee minute fase na fase afgedwing.

Vir die Bulls was Madosh Tambwe op vleuel gevaarlik, die losskakel Chris Smith het Morné Steyn se skoene goed volgestaan en Walt Steenkamp, Duane Vermeulen en Marco van Staden het voorlangs goed vertoon.

Maar gun die Lions hul oorwinning, want hulle het nooit gaan lê nie en hul beter besluitneming het die Bulls onkant betrap. Hulle het met mening geskrum en verdedig, veral die kaptein, Burger Odendaal.

Punte: Lions 34 (20): Drieë: Ruben Schoeman, Rabz Maxwane, MJ Pelser, Fred Zeilinga. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (3), Zeilinga. Strafdoele: Hendrikse (2).

Bulls 33 (19): Drieë: Elrigh Louw, David Kriel, Madosh Tambwe (2), Chris Smith. Doelskoppe: Smith (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harry ·

Ek dog julle se die bulls weet hoe om te wen, lyk nie vir my so nie????????????

MakersMark ·

Alle krediet aan die Leeus. Het nooit ophou speel nie. Bulls het die wedstryd weggegee nadat hul vêr voor was. Bulls is nog nr 1 op die log.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.