Reënboogbekerreeks: Dit reën kaarte in die Kaap

Die Stormers het vinger-aflek-rugby in die eerste 15 minute gespeel. (Foto: Hansie Linde)

Daar gaan nog baie lank om die braaivleisvure gesels word oor die nuwe reël in die Reënboogbekerreeks om rugbyspelers wat met ʼn rooikaart gestraf is, ná 20 minute met ʼn ander speler te vervang.

Saterdag in die Kaapstad-stadion het die Stormers twee rooikaarte (Seabelo Senatla en Willie Engelbrecht) ontvang, maar steeds byna die knoop teen die Sharks in die Reënboogbekerreeks SA deurgehaak – omdat hulle ná 20 minute ʼn ander speler kon opstuur.

Ja, hulle het ʼn dure prys betaal, want die Sharks het met 33 – 30 gewen nadat hulle rustyd nog met 12 – 23 agter was.

Bygesê, die Sharks het diep in die tweede helfte ook ’n geelkaart ontvang ná ʼn oortreding deur Jeremy Ward wat so byna die deur vir die Stormers oopgelaat het om te wen.

Die Stormers het vinger-aflek-rugby in die eerste 15 minute gespeel, die bal heen en weer gegooi en met binne-aangeë die Sharks oorbluf gehad.

Dit was oud-WP-rugby op sy beste, wat die skare in hul duisendtalle na Nuweland gelok het.

Maar toe raak hul stoom op met 14 man – sekerlik oor Senatla se rooikaart (hy het Aphelele Fassi se voete na ʼn hoë skop onder hom uitgelig) en Engelbrecht se eerste geelkaart vir ʼn gevaarlike hoogvat. Later het Engelbrecht, wat deur die Pumas aan die Stormers geleen word, sy tweede geelkaart (outomaties rooi) vir ʼn soortgelyke oortreding ontvang.

Die Sharks, met Reniel Hugo wat ʼn driekuns aan drieë behaal het, het binne ’n japtrap die agterstand in ʼn voorsprong omskep.

Daar was ʼn hele paar hoogtepunte, maar ook ʼn vrag vol laagtepunte.

Die pluspunt was dat Pieter-Steph du Toit die hele wedstryd op die veld gebly het ná sy langtermynbesering.

Dit in teenstelling met Siya Kolisi, wat weer vervang is.

Siya Kolisi is tydens die wedstryd vervang. (Foto: Hansie Linde)

Ook die Stormers se blitsoorlog in die eerste 15 minute en die Sharks se terugvegpoging.

Maar dan het die talentvolle Stormers-losskakel Kade Wolhuter sy knie beseer en is daar beslis kommer oor hom.

Ook is die gebrek aan dissipline ʼn groot kopseer, maar al gee dit aan die afrigters iets om aan te herkou oor hoekom hul spanne verloor, wag daar groot probleme.

Sny dit maar vroeg uit julle arsenaal, want julle gaan julle vasloop in Europa.

Punte: Sharks 33 (12): Drieë: Thomas du Toit, Fez Mbatha, Reniel Hugo (3). Doelskoppe: Curwin Bosch (4).

Stormers 30 (23): Drieë: Herschel Jantjies, Rikus Pretorius, Damian Willemse. Doelskoppe: Kade Wolhuter (2), Abner van Reenen. Strafdoele: Wolhuter (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

BARNEY ·

Dit is maar hoe dit gaan, n wedstryd is 80 minute, die span wat die langste speel wen, swak dissipliene is ongelukkig n kenmerk van ons rugby deesdae, die afrigters het baie werk om te doen as ons in Europe wil wen.

MakersMark ·

Stormers/WP bly maar ‘n versukkelde spannetjie. Kolisi het nog nooit 80 min gespeel nie, nie eers by die WP of Springbokke nie, gewoonlik rusbankie toe op so 55 min veral as die wedstryd voor lekker hard raak. Dink die SA spanne gaan sukkel in Europa en die bokke gaan sukkel teen die B&IL.

Manie ·

Krediet aan die Sharks wat die wenspel gespeel het. Stormers moet nog gaan leer speel. Jy daag nie net op deur die pers en wen nie

boerie ·

Daar is een wat nog n rooikaart moes kry, die skeidsregter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.