Reënboogbekerreeks: Geen blou Maandag in Pretoria

Die Bulls se Chris Smith duik oor die doellyn. (Foto: GB Jordaan)

Hoeveel keer moet ʼn mens dit nog sê: Daar is geen plaasvervanger vir ervaring op die rugbyveld nie.

Saterdagaand op Loftus Versfeld is dit weer bewys toe die 36-jarige losskakel-veteraan Morné Steyn die Bulls tot ʼn sege van 24-9 oor die Lions in die Reënboogbekerreeks SA gevoer het.

Steyn is eers in die tweede helfte opgestuur om Chris Smith te vervang, maar hy het onmiddellik ʼn groot verskil met sy kalmte, taktiese skopwerk en vermoë om kanse vir sy buiteagterspelers te skep, gemaak.

Met die onsekerheid oor die wedstrydfiksheid van Handré Pollard­ (hy is Saterdagaand in die tweede helfte van Montpellier se kragmeting met Bath opgestuur ná sy langtermynbesering) en of Elton Jantjies steeds die regte keuse is om sy skoene vol te staan, kan niemand die Bokafrigters Jacques Nienaber en Rassie Erasmus se besluit bevraagteken om Steyn na een van die Bokke se belyningkskampe voor die Britse en Ierse Leeus-toer te betrek nie.

Nie as jy Saterdagaand se kragmeting dopgehou het nie.

Ja, dit is sekerlik net ʼn “hospitaaljoppie” nie soos die gewese Bokafrigter, wyle Kitch Christie sou sê, maar as dit uitwerk, hoekom dit nie doen nie?

Die Bulls moes eintlik veel makliker gewen het as wat die telbord aandui, want drie keer het die televisieskeidsregter, Marius van der Westhuizen, beslis dat die driedrukpogings van Janko Swanepoel, Madosh Tambwe en Stavrino Jacobs nie toegeken moet word nie.

Tog het die Bulls drie ander drieë gedruk wat die verskil was.

Dit was geen goeie getuigvenster vir aanskoulike rugby nie, want daarvoor was daar te veel hanteer- en oordeelsfoute deur albei spanne.

Maar as ʼn span steeds ʼn wedstryd maklik wen, al speel hy nie die dag goed nie, is dit kenmerke van ’n goeie span.

Vir die tuisspan het die klipharde flank Marco van Staden weer die oog getref. Ai, dit laat ʼn mens wonder hoekom Erasmus-hulle in die rigting van Jasper Wiese in Engeland kyk as die moontlike plaasvervanger vir Francois Louw teen die Britse Leeus.

Hier loop ʼn baljagter in sy eie agterplaas in Pretoria rond wat nie sy gelyke op plaaslike vlak het nie.

Daar was ook opflikkerings deur die nuwe heelagter-aanwins James Verity-Am, Lizo Gqoboka, Elrigh Louw en Nizaam Carr.

Die Leeus het nooit moed opgegee nie, al was die oormag te veel.

Daar is ʼn hele paar opwindende spelers, maar of hul spelersdiepte genoeg gaan wees om vir agt maande lank Europa se bestes te pak, is ʼn ope vraag.

Punte: Bulls 24 (10): Drieë: Chris Smith, Zak Burger, Elrigh Louw. Doelskoppe: Smit, Morné Steyn (2). Strafdoel: Smith.

Lions 9 (6): Strafdoele: Fred Zeilinga (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MakersMark ·

Nie mooi rugby nie maar wen rugby. Wenkultuur duidelik teenwoordig.

Frans ·

Die agteruitgang van Leeusrugby sedert Ackerman en Swys de Bruin weg is moet vir die bestuur ‘n bron van kommer wees. Jy kan ‘n spelpatroon wat ‘n mens van die Leeus verwag as die bal op ‘n slakkepas skoongemaak word en spelers die bal staande ontvang, nooit ‘n werklikheid maak nie.
‘n Goeie skrum sonder ‘n vlugvoetige en aanvallende skrumskakel wat teminste die losmanne van die opposisie aan die raai hou beteken niks.Dit gee die opponente hope tyd om die verdediging te herorganiseer en baldraers te isoleer.Dit is in teenstelling met die spoed en venyn waarmee veral
NZ spanne en selfs Aussies die voordeellyn aanval en hoe vinnig die bal skoongemaak word.
Dalk goed vir ondersteuners se brose ego datSA-spanne nie meer deel van die kompetisie is nie.
As ‘n mens punte uit tien aan die 4 spanne moet gee:
Leeus 4 uit 10
Stormers en Bulle 6 uit 10.
Haaie 7.5 uit 10.
Die Haaie het by tye werklik goeie rugby gespeel en begin weer lyk na die span wat die voorloper in werklike Superrugby was.

Jan ·

Leeus se agteruitgang het al begin toe Kevin de Klerk weg is by die Leeus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.