Reënboogbekerreeks: Sharks bo in kaartspel teen die Lions

In die ou dae is daar gepraat van ’n drieëfees. Deesdae is dit niks minder as ʼn kaartefees nie.

Die Sharks het Saterdagmiddag in Durban die Lions met 34-26 in hul kragmeting in die Reënboogbekerreeks geklop nadat hulle drie geelkaarte ontvang het. Daarby het die Lions ook een ontvang.

Boonop was dit die Springbokstut Thomas du Toit, die plaasvervanger Fez Mbetha en die flank Henco Venter wat geelkaarte vir die Sharks gekry het. Dit het hulle in ’n stadium met net 13 spelers op die veld gelaat.

Dis deesdae ʼn alledaagse verskynsel en gebeur nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in oorsese rugby. Oli Kebble het juis Vrydag ʼn rooie gekry in die stryd tussen Glasgow en Edinburgh en Jean-Luc du Preez het die Du Preez-gesin se pak geel- en rooikaarte verder vir die Sale Sharks laat bult.

Die Brumbies het Saterdag in Brisbane teen die Reds met net 13 spelers op die veld geëindig en die Crusaders het twee geelkaarte teen die Chiefs gekry.

Hou die spelers nie meer by die reëls nie, ken hulle nie die reëls nie of tree die skeidsregters nie dalk te streng op nie?

Die feit van die saak is dat daar byna by elke beweging ʼn strafskop vir ʼn oortreding gegee kan word.

Word daar nie meer videosessies gehou om die foute uit te skakel nie?

Maar kom ons hou by die positiewe: Die Sharks het reeds vroeg ʼn bonuspunt verwerf en toe die krane toegedraai.

Spelskeppers soos Aphelelle Fassi, Sbu Nkosi en Lukhanyo Am het in hul doppe begin kruip.

Dit het die agterdeur vir die Lions oopgelaat om terug te veg.

Die Lions het dalk nie die nodige arsenaal om by te hou nie, maar vir jare bly hulle enduit veg en gee nooit moed op nie.

Maar die skietgoed was te min, die hanteerfoute te veel en die besluitneming nie na wense nie.

Puntemakers:

Sharks 34: Drieë: Jeremy Ward, Grant Williams, Thomas du Toit, Kerron van Vuuren. Doelskoppe: Curwin Bosch (4). Strafdoele: Bosch (2).

Lions 26: Drieë: PJ Botha, André Warner, Francke Horn, Vincent Tshituka. Doelskoppe: Fred Zeilinga (2). Jordan Hendrikse.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.