Reënweer beïnvloed Assupolrugby kwaai

QBR op die aanval teen UJ. (Foto: Verskaf)

QBR op die aanval teen UJ. (Foto: Verskaf)

Die milde reën wat die afgelope naweek aan die Witwatersrand en in Pretoria uitgesak het, het die Noorderbonde se reeks om die Assupolbeker erg beïnvloed, en van die wedstryde moes afgestel word.

 Ben Eybers, die voorsitter van Quins-Bobbies-rugby (QBR), laat weet die klub het gemengde sukses behaal in sy eerste tuiswedstryd in Groenkloof sedert die samesmelting tussen Harlequins en Pretoria Polisie.

In Groep A3 het EasyPay/BidVest Protea Coin QBR Swart die Universiteit van Johannesburg se Rautels met 37-15 getroef; QBR Rooi het met 29-19 gewen; maar die o.21-span het met 15-36 verloor.

Eybers sê QBR Swart het weer `n wedstryd van twee helftes gespeel, maar het getoon dat hy `n gedugte span sal wees.

“QBR Rooi het opnuut gewys hoekom hy as die klub se ‘ander eerste span’ bekend staan. In die modderige toestand het die span rustyd met 5-14 agtergeloop. Ná die begeesterde afrigter, Ludwiche van Deventer, se aansporing rustyd, het die span sterk teruggeveg om uiteindelik met 29-19 te wen.”

Eybers sê die o.21-span het die studente te veel speelruimte toegelaat, en dié het dit uitgebuit.

“Gegewe die formaat van die reeks is dit byna seker dat `n span wat een keer verloor nie vir die halfeindronde in aanmerking kan kom nie.”

naka-bulleRoodepoort teen Naka Bulle

 Johann Riekert, `n woordvoerder van die Naka Bulle, laat weet die Mootklub het al sy wedstryde in Groep A4 teen Roodepoort op dié se veld ver gewen.

Die eerste span het met 49-8 gewen (rustyd 21-8), die tweede met 36-0, en die o.21s met 49-8.

Louis (Luga) van Biljon, `n gewese staatmaker van Pretoria Polisie, het `n tweekuns vir die wenspan behaal, en behalwe `n strafdrie het Ettiene Storm, Frans Botha, Sylvester Booysen en Jerome Bastick die res gedruk.

Jean Grobler het vier van die sewe verdoel en Dylan du Buisson twee.

Centurion teen Brakpan

 Charles Pelser, die klubbestuurder van Centurion, het laat weet die wedstryde tussen sy klub en Brakpan in Groep A1 is op die laaste moontlike tydstip weens die onspeelbaarheid van die velde afgestel.

Die klubs het besluit om die punte te deel.

Boksburg teen Dragons

 Ook Danie Matthee, die voorsitter van Boksburg, het laat weet dat die wedstryde op Boksburg in Groep A2 teen Dragons van Pretoria-Noord as gevolg van die weer en die toestand van die veld in die slag gebly het.

Groep B

Witbank Ferro’s teen Northam Rhinos

 Flip de Kock, die sekretaris en hoofafrigter van Northam Rhinos, berig dat gure weer en papnat velde ook dié klub se wedstryde op Witbank in die wiele gery het.
northam-logo-300x210
Die Rhinos se eerste span het uiteindelik met 18-10 en Ferro’s se tweede met 7-5 gewen.

“Dit het ongelooflik baie gereën en die velde was sopnat,” sê De Kock.

Die eerste span se wedstryd is in die tweede helfte gestaak omdat die nat veld en weerlig dit onveilig gemaak het.

“[Northam] het die skrums en spel by die afbreekpunte oorheers, en die meeste balbesit geniet. Die nat bal en veld het dit eenvoudig onmoontlik gemaak om fases op te bou.

“Sodra `n speler geduik is en op die watermassas geval het, was die kans goed dat die bal sommer uit sy hande skiet.

“Danie Loots het agter goed vertoon, en behalwe `n drie ook `n skepdoel, strafdoel en doelskop aangeteken [13 punte].

“Josh Finlay het eweneens agter die doellyn gaan kuier ná hy die bal uit omkeerbesit ontvang het.”

De Kock het voorts aan Pale Toe! gesê Jacques Hattingh, wat eintlik `n agterspeler is, het hom op flank goed van sy taak gekwyt.

“Hy was lastig op die losbal, het telkemale duikslae uitgevoer, en glad nie teruggestaan vir die groter manne nie.”

De Kock sê dit het aanvanklik goed met die tweede span gegaan, maar die spelers kon eenvoudig nie afrond nie, hoewel hulle al die besit gehad en in die skrums oorheers het.

“`n Drie op `n skinkbord het gesorg dat Ferro’s onder die pale druk en met 7-5 voorloop.

“Pas ná rustyd is die wedstryd as gevolg van weerlig gestaak en later weer hervat. Die tweede span kon eenvoudig nie weer die doellyn oorsteek nie en het uiteindelik met 7-5 verloor.”

De Kock sê Northam het eerskomende naweek `n ruskans, en wag op die ander uitslae om te bepaal teen wie hy in `n halfeindstryd sal speel.

wits-sportWits teen Cullinan

 Ntsikelelo Ngcakana, die klubbestuurder van die Universiteit van die Witwatersrand, berig dat Wits albei sy wedstryde op Cullinan in Groep B2 teen die tuisspan gewen het.

Wits II (die studenteklubs se eerste spanne speel in die Varsityreekse) het Cullinan I met 43-0 oorskadu, en Wits o.21 het Cullinan II met 24-22 getroef.

Ngcakana het aan Pale Toe! gesê die Witsies het opwindende rugby met goeie kombinering tussen voor- en agterspelers gespeel.

“Die span het die afrigters se stelsels en speelpatroon gehandhaaf, wat omvattend tot `n puik vertoning gelei het.

“Noemenswaardig is die span se dissipline, veral op die verdediging, wat hom `n skoon rekord besorg het in weerwil van die uiterste druk wat Cullinan toegepas het.”

Ngcakana sê die agttal het buitengewoon goed vertoon en die kragtige skrumwerk het `n paar vaskopwinste opgelewer.

“Ferdinand Kelly, die haker en kaptein, het deur sy voorbeeld gelei, die teenstand soms soos `n stootskraper weggevee, en verbete verdedig.

“Die agterlyn het genoeg beweegruimte geniet om baie meters op die aanval te wen. Die agterspelers se vaart op die verdediging het hulle in staat gestel om die duikwerk oorkant die voordeellyn te doen.

“Kyle Wasserman (skrumskakel) het goeie rigting aan die spel gegee en verseker dat dit vloei. Jarred Branco (heelagter) het die aanval en verdediging uitmuntend georganiseer.”

Geesdrif en hartstog

Hy sê die geesdrif en hartstog van die Witsspan was `n belewenis om te aanskou, en maak dit moeilik om spelers uit te sonder.

Ngcakana bestempel die tweede wedstryd insgelyks as opwindend, en meld dat die Witsies ná drie drieë rustyd reeds met 17-0 voor was.

“Die spel het egter uitgetorring, en die tuisspan het pas ná rustyd met twee kookwater-drieë teruggeslaan.
“Die Witsspan het uiteindelik die moed bymekaar geskraap om nog `n drie te druk, voordat Cullinan reg teen die einde weer twee keer gaan druk het.”

Wits se beter skopwerk pale toe het uiteindelik die deurslag gegee.

Agterlangs was Vandre Rolls (buitesenter) die studente se grootste uitblinker en hy het die teenstanders van hom afgeskud om twee pragdrieë te druk.

Carling Forwood (slot) het `n puik fisieke vertoning gelewer voor hy die veld met `n besering moes verlaat.

Naas Rolls het Sizwe Ngubo (regtervleuel) en Ryan Theron (losskakel) Wits se drieë gedruk, en Theron het twee verdoel.

meyerton-knightsGroep C

Edenvale teen Meyerton

In Groep C1 het Eurolux Meyerton Knights die bordjies verhang nadat hy verlede jaar in die eindstryd van die Valke se Kestrelliga die knie voor AJC Edenvale Panthers moes buig.

Dié keer het hy Edenvale op die kampioen se eie veld met 22-15 die loef afgesteek.

Anthony Lloyd, Meyerton se voorsitter, sê die heersende nat en koue weer het nogal aan Engelse klubrugby herinner.

“Die wedstryd tussen twee sterk mededingers was kliphard, met Meyerton wat voor oorheers het, en in die nat toestande was dit die spanne se voorland om eerder punte met stelskoppe te behaal.”

Jesse Forbes (losskakel) het 17 van die wenspan se punte met die skoen behaal, en Jacques de Lange (loskopstut) het `n drie gedruk.

 Phillip Venter, die voorsitter van Edenvale, sê die Panthers het kwaai probleme in die lynstane en skrums ervaar.

edenvale-panthersBoonop was Meyerton se stelskopper (Forbes) in die kol met sy skoppe, en het hy sy span tot oorwinning geskop.

“David Maree het `n goeie vertoning op losskakel gelewer, en die kaptein, Liam Mott, het van die voorpunt af gelei. Van verlede jaar se staatmakers het ook hul merk op die wedstryd gelaat.

“[Edenvale] sal vandeesweek deeglik aan sy foute skaaf om seker te maak hy is reg om Bronkhorstspruit aan te durf.”

Weer drie wedstryde

 Daar is eerskomende Saterdag van 16:00 af weer drie wedsryde in Groep C1 op die terrein van die Hoërskool Dr Malan,

Meyerton: Meyerton teen Warmbad; Hartbeespoort teen Elsburg; en Atteridgeville teen Mogol.

Toegang kos R10 per volwassene en R5 per kind onder 12. Veilige parkering is beskikbaar en kos en drinkgoed word te koop aangebied.

Lloyd beklemtoon dat geen alkohol op die terrein verkoop of toegelaat word nie.

Vanderbijlpark teen Tswaing

 Mpho Makgatho, die voorsitter van Tswaing, het Pale Toe! in kennis gestel dat die wedstryd in dieselfde groep tussen sy span en Vanderbijlpark op Edenvale deur die gure weer kortgenip is.

Tswaing het op daardie tydstip met 12-6 voorgeloop.

Mpho Makhubela en Tebogo Mamabolo het drieë vir die voorloper gedruk, en Tebogo Moloto het een verdoel.

westelikesOos-Rand Polisie teen Westelikes

 Op Oos-Rand Polisie se veld het die tuisspan `n drie in die laaste minuut van sy Groep C2-kragmeting teen Westelikes van Pretoria gedruk om met 25-19 te wen. Die besoekers was op daardie tydstip met 19-18 voor.

Seun van Rooyen, Westelikes se ondervoorsitter, sê in die moeilike speeltoestande het albei spanne gesukkel on die bal te beheer.

“Albei kan egter tevrede met hul onderskeie vertonings wees, en die wedstryd het die hele tyd wipplank gery.

“Westelikes was omtrent die laaste twee minute met 19-18 voor, toe Polisie `n gaping in die Pretorianers se agterlyn benut het om `n drie te druk.”

Hy meld dat albei spanne se dissipline deurentyd goed was.

Sarel de Beer, die kaptein van Westelikes, het twee drieë vir sy span gedruk, en Jacques Storm het met drie strafdoele geslaag.

De Beer is as die speler van die wedstryd aangewys.

hartbeespoortHartbeespoort teen Atteridgeville

 In `n botsing in Groep C3 op Transnetparke se veld in Jan Niemandpark, het Hartbeespoort met 64-5 teen Atteridgeville gewen.

Chris du Toit, die wenspan se ondervoorsitter, bestempel dit as `n baie eensydige wedstryd.

Bercho Botha en Oras Shima het veral vir die wenspan uitgeblink, het hy aan Pale Toe! gesê.

“Harties het weer hardlooprugby gespeel, en in die proses tien drieë gedruk. Atteridgeville kon net met `n onderskepdrie antwoord.

“[Die agttal] het die grondslag vir Harties se oorwinning gelê, en het meestal die skrum en kontakareas oorheers.”

Du Toit sê in die geheel beskou, was dit weereens `n kenmerk dat die Harties-spelers se hartstog vir die klub op die veld weerspiëel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Naka ·

Naka se 0/21 span het 43-0 gewen.

Die telling wat weergee was, was die van Naka 1.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.