Regering én Saru laat ons rugby in die steek

Bok-logo

Dit uittog van jong Suid-Afrikaanse spelers moet `n les vir die regering en die rugbybase wees – anders kan dit allerhande slegte gevolge vir die land se rugby hê en ook tot groot geldverliese ly. Die tyd vir jabroer speel is verby.

Die Suid-Afrikaanse o.20-slot Jacques du Plessis vertrek binnekort Frankryk toe en dis waarskynlik `n vroeë waarskuwing vir die plaaslike rugbybase dat hul verbod op SA jeug- en junior spelers om vir ander lande toetsrugby te speel nie die spelersuittog stuit nie.

Uit die Kaap berig dat die Stormers se jeugdige stut Steven Kitshoff (22) hom einde Oktober by Bordeauz-Bègles sal aansluit. Hy was die loskopstut toe die Jong Bokkies die Junior Wêreldbeker in 2012 gewen het.

Die Blou Bulle-maatskappy het te kenne gegee dat hulle geldelik nie eens naastenby met die aanbod uit Frankryk kan meeding nie.

Selfs vir diegene wat nog glo dat kleurpolitiek die primêre dryfveer vir die uittog is, moet dit duidelik wees dat niks anders nie as geld die vernaamste beweegrede is. Eweneens moet húlle wat spansamestelling met kwotas wil reguleer dit in hul koppe kry dat geen speler wat sy geld werd is deesdae deur sy velkeur uit `n span, hetsy plaaslik of oorsee, gehou sal word nie.

Omdat oorsese spelers vir die Springbokke kan speel, is die bedreiging op toetsvlak nie so erg nie, maar dit begin nou dreig om die gehalte van Superrugby en die Curriebekerreeks aan te tas. Dit kan noodlottig vir SA rugby wees as die belangstelling in dié reekse kwyn. Die Curriebeker het SA rugby selfs met die hoogtepunt van die sportboikot laat oorleef, en die eindstryd lok groter belangstelling as baie hedendaagse toetse uit.

Die SA Rugbyunie verdien nog baie geld uit TV-regte, maar wat gaan gebeur as die belangstelling kwyn en die TV-kykersgetalle daal soos wat lank reeds met toeskouergetalle die geval is? SA kykers kan uiteindelik selfs verkies om ter wille van die gehalte daarvan eerder oorsese rugby op TV kyk. Die geleenthede daartoe is in oormaat beskikbaar.

Die ontwrigting wat `n spelery vir die Springbokke en gevolglike onbeskikbaarheid vir klubs inhou, moenie te hoog as afskrikmiddel vir klubeienaars opgegee word nie. Iemand wat sulke fortuine kan opbou, is nie onder `n kalkoen uitgebroei nie en dit sal nie verbaas as `n tydstip aanbreek dat hulle spelers kontraktueel van toetsrugby uitsluit nie.

Spelersontwikkeling sal hoë voorkeur moet kry as die bedreiging hoegenaamd die hoof gebied wil word. Dit is moontlik. Nieu-Seeland bewys dit. Dié land met net sowat 4.5 miljoen mense (ver minder as Johannesburg se 7.8 miljoen) lewer genoeg rugbyspelers en -afrigters van gehalte om reeds vyf jaar lank die wêreld se beste span te wees en nog mildelik van hulle uit te voer ook. Kiwi’s rig die helfte van die Sesnasiespanne af.

Die TV- geld is op verre na nie genoeg om die topspelers dermate te vergoed om Suid-Afrika se mededingendheid op topvlak te handhaaf en terselfdertyd `n omvattende ontwikkelingsprogram te finansier nie.

Diegene wat hooghartig in hul ivoortorings sit en Saru kasty oor die klomp geld wat “ten koste van voetsoolrugby” in die topspelers “ingeprop” word, snap nie die koste-voordeelbeginsel wat geld nie. Die gehalte van die topspelers verseker Saru se inkomste dienooreenkomstig. Dis die lewensbloed van rugby in die land. Sonder die geld wat die topspelers aan TV-regte inbring, sal daar in elk geval geen geld vir ontwikkeling wees nie.

Vir die regering wat nasiebou so hoog opgee, kan `n magtige Springbokspan `n enorme bate wees, maar dan moet hy ophou karring met kwotas en ander politieke inmenging. Bafana-Bafana, wat in alle opsigte en meer aan die regering se eise voldoen, is in elk geval `n klaaglike mislukking as nasiebouer. Net `n wenspan kan so iets regkry.

Rugbybase moet minder van jabroers wees, besluit of hulle rugby of politiek wil dien en die regering reguit wys watter skade hy met sy politieke inmenging aanrig en hom omhaal om met rugby-ontwikkeling saam te werk.

Tradisionele rugbyspelende skole (noem dit maar die ou model C-skole) is steeds die vernaamste ontwikkelaars van rugbyspelers, ook spelers van kleur, in die land. Die regering kan sy deel doen deur tradisionele swart skole deur die onderwysdepartmente te help om dieselfde in eie kring te doen. Laat hulle vrywillig tussen rugby en sokker kies. Dis die sekerste metode om rugby onder die swart jeug te ontwikkel. Dit behoort deur `n behoorlike voedingskema vir skole gesteun te word. Sportontwikkeling en ondervoeding rym nie.

Die unies het eenvoudig nie die nodige geld vir omvangryke ontwikkeling nie. `n Mens kan nie bloed uit `n klip tap nie. Hulle sal egter meer as bereid wees om met die verlening van kundigheid te help.

Dat die uittog van spelers tans nog grootliks tot wittes beperk is, moet darem ook `n aanduiding gee van hoe die buitelandse rugbykenners oor SA spelers van kleur oordeel. Om die voosgespeelde rassekaart op die tafel te wil gooi, is hier van nul en gener waarde. Kyk maar na die hoë persentasie spelers van kleur in die meeste oorsese spanne op alle vlakke. Hulle is volop, hulle kom net nie van Suid-Afrika af nie.

Oral, juis ook in Suid-Afrika, sal natuurlikerwys plek gemaak word vir plaaslike spelers van kleur wat goed genoeg is.

Futiele kritiek en voorskrifte deur mense wat geen snars vir rugby omgee of selfs nie iets daarvan af weet nie gaan nie die probleem oplos nie. Enige moontlike oplossing – dalk sommer vir Bafana-Bafana ook – sal rugby (of dan sport) bo ideologie moet stel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.