Reinach, De Allende haal Bokgroep van 30

Foto: telegraph.co.uk

Foto: telegraph.co.uk

Heyneke Meyer het die Sharks se skumskakel Cobus Reinach vir sy vorm beloon deur hom in te sluit in die groep van 30 spelers vir die Rugbykampioenskap. Daar is sewe oorsese Springbokke in die groep, en Jean de Villiers keer terug as kaptein.

Die senter/vleuel Damian de Allende, wat hom weens ‘n besering aan die vorige groep moes onttrek, is ook onder die 30 spelers. Hy en Reinach is die enigste spelers sonder toetsondervinding.

Spelers wat nie opgeroep is nie en uitstaan, is die vaskop Coenie Oosthuizen en Siya Kolisi. Oosthuizen het ‘n swak seisoen beleef en Kolisi kon nie die Stormers se beginspan haal nie.

Reinach het sy plek in die groep waarskynlik te danke aan die besering aan Fourie du Preez, wat skynbaar ook nie vir die jaareindtoer beskikbaar sal wees nie. Ruan Pienaar lyk na die voorloper vir die nr.9-trui. Die ander skrumskakel is François Hougaard.

Eben Etzebeth is terug, maar as hy op 16 Augustus teen Argentinië speel sal dit sy eerste verskyning op die veld in nege maande wees. Jean de Villiers het ook ‘n stuk of agt weke laas aksie gesien en Frans Malherbe het lank met harsingskudding op die kantlyn gesit.

Die ander slotte is Victor Matfield, Lood de Jager en Bakkies Botha. Benewens Botha is die ander ses oorsese spelers in die groep Ruan Pienaar, Morné Steyn, Schalk Brits, François Louw, Bryan Habana en Gurthrö Steenkamp.

JP Pietersen en Schalk Burger is in Japan gekontrakteer en is nie oorweeg nie.

Meyer sal drie keuses op losskakel hê: die betroubare Morné Steyn en Pat Lambie en die briljante nuweling Handré Pollard, wat sy debuut teen Skotland gemaak het. Johan Goosen is weggelaat na hy die vorige groep tydens die kampfase met `n besering moes verlaat. Hy sal sy loopbaan voorlopig in Frankryk voortsit.

Pollard, Cornal Hendricks, Lood de Jager, Jan Serfontein en Oupa Mohoje het genoeg in die Junie-reeks gedoen om hul plekke te behou.

Meyer het gesê al die spelers in die groep sal aanstaande week medies geëvalueer word. Die Bokke sal van 4 tot 8 Augustus in Johannesburg en weer op 10 Augustus in Pretoria saamtrek in voorbereiding op die toets teen Argentinië op 16 Augustus op Loftus Versfeld. Australië en Nieu-Seeland meet op dieselfde dag kragte.

Spelers wat verlede jaar en vroeg vanjaar gespeel het en met beserings sukkel, is Flip van der Merwe, Pieter-Steph du Toit en Arno Botha (knieë), Fourie du Preez en Jaque Fourie (enkels) en Pierre Spies (bisep).

Die Bokgroep vir die Rugbykampioenskap is:

Willem Alberts (Sharks), Bakkies Botha (Toulon), Schalk Brits (Saracens), Marcell Coetzee (Sharks), Damian De Allende (Stormers), Lodewyk de Jager (Cheetahs), Jean de Villiers (kaptein, Stormers), Bismarck du Plessis (Sharks), Jannie du Plessis (Sharks), Eben Etzebeth Stormers), Bryan Habana (Toulon), Cornal Hendricks (Cheetahs), Francois Hougaard (Bulls), Patrick Lambie (Sharks), Willie le Roux (Cheetahs), Francois Louw (Bath), Frans Malherbe (Stormers), Victor Matfield (Bulls), Teboho “Oupa” Mohoje (Cheetahs), Tendai Mtawarira (Sharks), Lwazi Mvovo (Sharks), Trevor Nyakane (Cheetahs), Ruan Pienaar (Ulster), Handré Pollard (Bulls), Cobus Reinach Sharks), Jan Serfontein (Bulls), Gurthrö Steenkamp (Toulouse), Morné Steyn (Stade Francais), Adriaan Strauss (Cheetahs), Duane Vermeulen (Stormers).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.