Reinach óók dalk ’n Fransman?

Cobus Reinach. Foto: GB Jordaan.

Die man wat met die vinnigste driekuns in Wêreldbeker-geskiedenis spog, die Springbok Cobus Reinach, kan moontlik ook ’n Fransman word.

Die 29-jarige Reinach is ’n sterspeler vir die Northampton Saints in Engeland, maar volgens die Britse pers is daar sprake dat die Franse finansiële reus, Montpellier, in sy dienste belangstel.

Volgens die Northampton Chronicle & Echo is die Franse klub selfs bereid om Reinach uit sy huidige Saints-kontrak te koop, wat in 2020 tot ’n einde kom.

“Cobus se loopbaan staan einde se kant toe en hy is waarskynlik op soek na ’n groot en lang kontrak waar hy sy loopbaan op ’n hoë noot kan afsluit. Terselfdertyd het ons ’n paar goeie opkomende Engelse spelers wat besig is om hul hande op te steek,” het die Saints se baas, Chris Boyd, in die media gesê.

“Dus moet ek dink wat Cobus op die kort- en langtermyn kan bied, teenoor wat iemand anders oor dieselfde tydperk kan lewer. Hy het waarde en dit is duidelik dat sy waarde baie hoog is.”

Boyd het verder gesê dat die klub nog in samesprekings met die Suid-Afrikaner oor sy toekoms is en dat dit ’n oop gesprek is.

Volgens berigte kan Montpellier – indien Reinach daarheen sou gaan – die oudspeler van die Haaie tot R800 000 per maand vir sy dienste betaal.

Handré Pollard steek reeds ongeveer R20 miljoen by die einste klub in sy sak.

“Ek dink om eerlik te wees is die beste manier om dié soort situasies te hanteer. Waar daar ’n rokie is, is daar normaalweg ’n vuurtjie. Tog dink ek nie daar is al een of ander ooreenkoms gesluit nie,” het Boyd afgesluit.

  • Reinach se driedruk-rekord is teen Kanada gedurende die afgelope Wêreldbeker-toernooi in Japan opgestel. Een van sy drieë is ook benoem in Wêreldrugby se drie van die jaar-kategorie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.