Rekord wink vir gewese Springbok-kaptein

Die gewese Springbok-kaptein Adriaan Strauss staan op die punt om ’n uitsonderlike baken in sy rugbyloopbaan te bereik.

As hy Vrydag van die bank af vir die Bulls teen die Crusaders speel, sal hy nes Victor Matfield in 148 Superrugbywedstryde gespeel het.

Geen ander Suid-Afrikaner het dit meer kere reggekry nie, en Strauss kan eersdaags die alleenhouer van die rekord wees. Trouens, hy kan die eerste Suid-Afrikaner word wat 150 wedstryde in dié reeks agter sy naam kan skryf.

Vyf Nieu-Seelanders en vier Australiërs het al die 150-kerf bereik of verbygesteek. Wyatt Crockett (Crusaders) is die rekordhouer met 183 Superrugbywedstryde – en hy is nes Strauss Vrydag op die bank, en kan sy rekord verder opskuif.

Crockett (35) en Strauss (32) het albei hul buiging in die reeks in 2006 gemaak.

Al Crockett se wedstryde is vir die Crusaders gespeel; Strauss het by die Bulls begin, en is toe Cheetahs toe, vir wie hy 97 keer gespeel het voordat hy terug Pretoria toe is. Hy het die Bulls nou reeds 50 keer verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel Strydom ·

Adriaan Strauss – Gewese Cheetah Kaptein- Gerespekteede speller- Gun hom die prestasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.