Rekordsege vir SA afrigter se Heren 15

Werkers in Cluj, Roemenië, spook om die sneeubedekte veld toetsgereed te kry. (Foto: Facebook)

Nederland, met sy Suid-Afrikaanse afrigter, het Saterdag in Amsterdam ʼn rekordsege oor Pole in die reeks om die Rugby Europa-trofee (RET) behaal.

Gareth Gilbert se Heren 15 het die ongelukkige Pole met 71-30 oorskadu.

Nederland is nou tweede in die reeks, ná Portugal, teen wie hy reeds die knie moes buig.

Twee Nieu-Seelanders in die Nederlandse span het veral die telbord aan die rol gehou. Liam McBride (losskakel) het 18 punte met nege doelskoppe aangeteken, en Huey van Vliet (flank) het drie drieë gedruk. Sep Visser (linkervleuel), die broer van die Skotse toetsspeler, Tim Visser, het ʼn tweekuns behaal.

♦ In ʼn goeie vertoning in Tbilisi, Georgië, het die Spaanse Leeus daarin geslaag om die tuisspan tot ʼn sege van 23-10 in die reeks om die Rugby Europa-beker (REB) te beperk (rustyd 9-3).

Omdat die Lelo’s reeds plek in aanstaande jaar se toernooi om die Wêreldbeker (RWB) bespreek het, geld die wedstryd nie in die stryd om dié aanspraak nie, en het Spanje steeds ʼn goeie kans om Japan toe te gaan.

♦ Rusland se RWB-kans het op sý beurt ʼn knou gekry toe Roemenië hom in Cloej met 25-15 verslaan het.

Die Eike was teen rustyd slegs met 10-8 voor en teen die 70ste minuut het die spanne met 15-15 gelyk getrek. Die tuisspan het die Bere egter vier minute later weer verbygesteek en op die ou end die wedstryd beklink.

Die veld was Vrydag nog toe onder die sneeu weens die gure weer wat Europa die afgelope paar dae teister.

♦ België se Swarte Duiwels (tweede laaste op die punteleer) het Duitsland met 69-15 opgedreun, in wat die Duitse Rugbybond (DRV) as ʼn “bitter nederlaag” bestempel.

Die DRV het hom ook daarmee versoen dat hy uit die reeks afgeskuif sal word.

Duitsland se nuwe losskakel, Wynston Cameron-Dow, wat in Durban gebore is en aan Durban High School (DHS) matriek behaal het, het vyf van sy span se punte met ʼn doelskop en ʼn strafdoel aangeteken.

Terloops, die Duitse punterekord (279) word deur ʼn ander Suid-Afrikaner, Raynor Parkinson, gehou. Jaco Otto is die voorste driedrukker met 15 drieë, en sy 75 punte is die derde meeste vir Duitsland.

Duitsland het sedert 2013 onder die afrigting van ʼn gewese Tukkie, Kobus Potgieter, en met ʼn sterk kern van spelers met Suid-Afrikaanse wortels (onder wie Parkinson en Otto), merkwaardig gepresteer en was ʼn gunsteling om vir aanstaande jaar se RWB-toernooi in aanmerking te kom toe die DRV en sy borg haaks geraak het oor die feit dat laasgenoemde, en nie die DRV nie, die spelers gekontrakteer het.

Hulle (en Potgieter) was gevolglik nie langer vir die nasionale span beskikbaar nie, en die DRV moet van nuuts af ʼn span bou, terwyl hy ʼn gulde kans verspeel het om aan rugby se toptoernooi deel te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.