Reniel Hugo is ’n man vir ’n bal

Reniel, Niel, Rize Mari en Melindi Hugo. (Foto: Verskaf)

Deur Elize Perrin

Kleintyd reeds het hy sy pa met ʼn bal in die hand ingewag. Dit is Reniel, slot van die Sharks en seun van Niel Hugo, voormalige Westelike Provinsie- en Springbokrugbyspeler.

Hande, raket of kolf

“Reniel was van kleins af lief vir sport en het omtrent altyd een of ander soort bal by hom gehad,” vertel Niel. “Ek onthou hoe ek smiddae na werk, soms moeg, by die huis gekom het en dan staan hy met ʼn bal by die deur vir my en wag.”

Reniel beaam dit.

“Van kleins af het ek altyd ʼn bal in my hande gehad,” sê hy. Hy reken die feit dat sy ouers albei sport beoefen het, het ook sý liefde daarvoor aangewakker.

Beide pa en seun vertel dat Reniel ook gemaklik met ʼn raket en kolf kon omgaan.

“Reniel was die Westelike Provinsie se o.13 nommer een tennisspeler en het op skool ook provinsiaal krieket gespeel,” sê Niel. “In sy onder agtien jaar het hy aan die Craven-rugbyweek deelgeneem en is ook vir die provinsiale krieketspan gekies. Hy moes toe ʼn besluit neem.”

“Rugby was altyd vir my ʼn passie, alhoewel ek tennis en krieket ook gespeel het,” sê Reniel. “Ek het eers in my matriekjaar ʼn keuse gemaak toe ek gedurende Cravenweek deur die Westelike Provinsie genader is om ná skool ʼn kontrak by hulle te teken.”

Die raket en kolf is sodoende eers weggebêre.

Spanne en planne

Reniel saam met sy susters, Melindi (links) en Rize Mari, op Nuweland. (Foto: Verskaf)

Met een-en-dertig winters agter die rug is Reniel ʼn man wat al goed vir die spel opgewarm is. Nie net is hy in 2008 by die Suid-Afrikaanse skolespan ingesluit nie, maar het hy ook in 2013 hoog vir die Suid-Afrikaanse Universiteitespan gerank.

Sy senior loopbaan het in 2011 by die Westelike Provinsie begin. Na ʼn draai in die Noorde, waar hy sy kant vir die Bulls gebring het, het hy ʼn skuif na die Vrystaatvlaktes gemaak. Hier het hy vir ʼn paar jaar die Cheetah-trui gedra voordat Jake White hom na Japan gelok het. Met sy terugkoms het hy hom weer by die Cheetahs aangesluit voordat hy ʼn kontrak met die Sharks geteken het.

Vra jy Reniel of hy dit sou oorweeg om Pretoria toe te skuif indien White hom ʼn kontrak sou aanbied, blyk dit gou dat hy sy dae in Durban geniet.

“Ek en Jake het ʼn baie goeie verhouding vanweë die twee jaar wat ons in Japan by Toyota Verblitz saamgewerk het, maar ek dink nie ek sal sommer Bulle toe gaan nie. Ek is baie gelukkig hier by die Sharks en geniet die leefstyl hier in Durban baie,” antwoord hy.

Net soos sy pa, trek Reniel ook meestal die nommer 5-trui oor sy kop. Wonder jy of Niel soms ʼn bietjie raad uitdeel, wys hy jou gou daarop dat dinge baie sedert sy speeldae verander het.

“Rugby as spel het so baie verander en ook die manier hoe daar rugby gespeel word,” sê Niel. “Daar word studies van die spel, spelers en spanne gemaak om leemtes en geleenthede uit te wys. Dit is dus moeilik, eintlik onmoontlik, om sinvolle insette van buite af te gee. Ek meng nie graag in nie.”

Kopspeletjies

Peter-Steph du Toit en Reniel by ʼn Varsitybeker-wedstryd ʼn paar jaar gelede. (Foto: Verskaf)

Enige sportman of -vrou kan getuig dat jou hele menswees fiks moet wees om op professionele vlak mee te ding.

“Daar is baie ups and downs in rugby,” sê Reniel. “Jy moet baie sterk in jou kop wees en dit is belangrik om nie op te hou om in jouself te glo nie. Jy moet bereid wees om hard te werk om jou doelwit te bereik. Niks in die lewe kom maklik nie. Jy moet jouself druk om die beste te wees wat jy kan wees. Wanneer jou geleentheid kom, moet jy reg wees om dit te gebruik.”

Niemand kon egter voorspel wat die wêreld aan die einde van 2019 sou tref nie. Die wêreld is deur ʼn virus tot stilstand geruk en ʼn rooi kaart is aan sportspanne uitgedeel. Meer as ʼn jaar later is dit darem versag tot ʼn geel kaart; op en af van die veld. Vooruitbeplanning bly egter ʼn uitdaging, wat nie anders kan as om ʼn invloed op spelers te hê nie.

“Elke ou vat verantwoordelikheid vir homself om nie die virus te kry nie,” sê Reniel. “Omdat jy twee tot drie wedstryde gaan mis indien jy positief toets, vermy ʼn mens maar plekke waar jy dit kan optel. Niemand wil so lank as gevolg van Covid uit wees nie.”

Volgens Reniel was daar aan die begin maar altyd die vrees dat hy positief kon toets.

“Ek is nou al so gewoond aan toets dat ek eintlik nie meer oor die resultate stres nie,” sê hy.

Nie net vir die spelers nie, maar ook vir die publiek was dit ongewoon om nie toeskouers by rugbywedstryde en ander sportgeleenthede te sien nie.

“Ek sien baie daarna uit om weer toeskouers by ons wedstryde te hê,” sê Reniel. “’n Mens kom tog elke keer agter dat jy iets mis en daarom hoop ons dinge kan gou weer na normaal terugkeer.”

Niel deel sekerlik daardie wens. Hy het vroeër probeer om van Reniel se wedstryde by te woon, veral toe hy vir die Cheetahs uitgedraf het, maar moet nou ook maar sy sitplek voor die televisie inneem.

“Nou is ek ʼn gespanne toeskouer voor die televisie,” vertel hy.

Menswees

Reniel in sy Matie-dae op die rugbyveld.(Foto: Verskaf)

Reniel geniet dit nie net om ʼn bal te jag nie, maar ook ʼn bok of twee. Verder swaai hy ook graag sy stokke op die gholfbaan.

“My motto is: work hard, play hard,” sê Reniel. “Dit help my om voluit te lewe.”

Die grootste lekkerte is egter om tyd saam met sy vriende en familie deur te bring.

“Hy hou daarvan om by die huis te wees en te braai. Hy maak ook sommer maklik vir ons een of ander lekker gereg,” vertel Niel.

Reniel het groot waardering vir sy pa.

“My pa is ʼn fenomenale mens,” sê hy. “Hy fokus altyd op die positiewe en is ʼn goeie voorbeeld van iemand wat die beste in ander mense raaksien. Hy is baie nederig. Dit is seker sy beste eienskap. Ek sal graag eendag soos hy wil wees, want almal sê altyd hoe ʼn great vriend hy is.”

En watter nalatenskap sal Niel graag vir sy seun en twee dogters behoue wil laat bly?

“Nederigheid, belangstelling en liefde teenoor mekaar en jou medemens,” antwoord hy. “Spandeer kwaliteittyd op positiewe dinge en maak tyd vir mekaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokkie

En geen woord oor sy gewese springboknetbalspeler-ma, Rése, nie?

Anton

Daar bly ook heelwat van hulle in Seepunt :-)