Rennie kies Hodge om Bok-skoppe te fnuik

Die Wallabies se Dave Rennie. Foto: Juan Mabromata/AFP.

Australië se afrigter Dave Rennie het ses voorspelers en twee agterspelers op sy plaasvervangersbank vir Saterdag se toets teen die Springbokke gekies.

Dan het hy ook ’n paar veranderinge aan die beginspan aangebring wat so sleg in hul tweede wedstryd teen Argentinië verloor het.

Die ervare Reece Hodge sal op heelagter uitdraf, terwyl Tom Wright na regtervleuel skuif. Die Wallabies se agterste driehoek het lelik teen die Argentyne kleigetrap en Rennie sal hoop dat die spelers nou hul man teen die Springbok-lugaanvalle sal staan.

Hodge, wat al in 57 toetse vir die Wallabies gespeel het, staan 1,91 m in sy sokkies en Rennie-hulle hou waarskynlik duimvas dat hy met ’n soortgelyke vertoning as die All Blacks se Jordie Barrett teen die Springbokke vorendag kom.

Barrett was ’n veilige vesting in die All Blacks se oorwinning op Ellispark en hy het beslis die Suid-Afrikaners se skoptaktiek ’n bietjie in die wiele gery.

Dan sal James Slipper die span in Michael Hooper se afwesigheid aanvoer.

“Dit is goed om so baie ervare spelers weer terug in die span te hê. Ons verstaan dat respek iets is wat verdien moet word en ons het nou ’n geleentheid om hard daarvoor in ons wedstryd teen die Springbokke te werk,” het Rennie gesê.

Hy sien ook daarna uit om die Bokke in Australië aan te vat.

“Dit is uitstekende motivering om weer voor ons tuisskare te speel, veral hier in Adelaide. Ons was amper 20 jaar gelede laas hier in aksie.”

Australië: Reece Hodge (heelagter), Tom Wright (regtervleuel), Len Ikitau (buitesenter), Hunter Paisami (binnesenter), Marika Koroibete (linkervleuel), Noah Lolesio (losskakel), Nic White (skrumskakel), Rob Valetini (agtsteman), Fraser McReight (flank), Jed Holloway (flank), Matt Philip (slot), Rory Arnold (slot), Allan Alaalatoa (stut), Folau Fainga’a (haker) en James Slipper (kaptein en stut). Plaasvervangers: David Porecki, Scott Sio, Taniela Tupou, Darcy Swain, Rob Leota, Pete Samu, Tate McDermott en Andrew Kellaway.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Op papier lyk dit na ‘n gedugte span , maar ek glo die Bokke sal reg wees vir hierdie Wallabies.

Andrew ·

In 1995 wereld beker was daar vreemde name om te leer ken van Samoa en Tonga en so aan. Die span se name is net so moeilik om uit te spreek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.