Retallick nie teen die Bokke

Brodie Retallick (Foto: YouTube.com)

Die gevierde All Blacks-slot Brodie Retallick sal nie Saterdag op Nuweland in die laaste toets in die Rugbykampioenskap vir die All Blacks teen die Bokke speel nie.

Retallick sal sy vrou, Niki, in Nieu-Seeland bystaan ná die verlies van hul ongebore babaseuntjie.

Hy het nie saam met Sam Cane, Ryan Crotty, Lima Sopoaga, Liam Squire en Sam Whitelock na Suid-Afrika gereis nie.

Die sestal het ruskans gekry vir Saterdagaand se toets in Buenos Aires teen die Argentynse Pumas, wat die All  Blacks met 36-10 gewen het. Hulle het reeds met die gelykopuitslag tussen die Springbokke en die Wallabies in Bloemfontein die reeks die soveelste keer gewen.

Cane-hulle het reeds in Suid-Afrika aangekom om vir die toets teen die Bokke voor te berei en wag nou op hul spanmaats wat die lang reis van Argentinië moet aanpak.

Een van Scott Barrett of Luke Romano sal in alle waarskynlikheid in Retallick se plek teen die Bokke  speel.

Albei het teen die Pumas gespeel en nie werklik die wêreld aan die brand gespeel nie omdat hul vermoë in die lynstane nie van dieselfde gehalte as dié van Retallick is nie.

Dis was juis en van die Bokke se groot leemtes in die onlangse toets teen die All Blacks in Albany, wat die All Blacks met 57-0 gewen het. Die Bokke se haker, Malcolm Marx, kon nie sy springers vind nie omdat die All Blacks (Retallick, Whitelock en Kieran Read) op elke bal meegeding het.

Wat baie interessant is, is dat Romano, wat nie veel speelkans in vanjaar se reeks gekry het nie, die meesterplan bedink het om die Bokke in die lynstane te ontwrig.

Origens word dit verwag dat die All Black-keurders Lima Sopoaga as losskakel sal inspan. Beauden Barrett was briljant in die eerste helfte teen die Pumas, maar het gaandeweg swakker gespeel.

Dan kan Aaron Smith ook ruskans kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rianto ·

Jammer om te hoor van sy verlies…Dit verberer nie eintlik Bokke se kanse nie… ABs nogsteeds te goed…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.