Rhodes kan dalk nog tong na Springbokrugby uitsteek

Michael Rhodes (Foto: Twitter @MikeRhodes7)

Daar kan nog lang trane in Springbokrugby gehuil word oor Michael Rhodes, een van die onbesonge helde en werkesels van die Saracens-klub in Londen.

Rhodes, wat op 1 Julie vanjaar kwalifiseer om vir Engeland te speel nadat hy aan die verpligte verblyfkwalifikasie van drie jaar voldoen het, het reeds van die Engelse afrigter, Eddie Jones, ʼn oproep ontvang waarin hy meegedeel is dat hy dopgehou word en dat hy daarop moet  voortbou.

Met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan en om seker te maak dat daar genoeg diepte beskikbaar is, is Rhodes sekerlik in Jones se visier.

Die groot vraag is of Rhodes goed genoeg is om vir die Springbokke te speel? Hy isvoorheen by een of twee oefenkampe betrek, maar is nooit gekies nie en het vrede daarmee gemaak dat sy kinderdrome nie bewaarheid sou word.

Is Jean-Luc du Preez,  Siya Kolisi, Uzair Cassiem, Francois Louw en Pieter-Steph du Toit beter? Net die tyd sal leer.

Voordat hy na Londen is, het die 30-jarige Rhodes sewe Superwedstryde vir die Sharks, 11 vir die Lions en 26 vir die Stormers gespeel. Dit het gevolg op 39 Curriebekerwedstryde vir die Sharks, 22 vir die Goue Leeus en 22 vir die Westelike Provinsie.

Ja, sy humeur het hom soms in die steek gelaat, maar namate die jare aangestap het, het hy gekalmeer. Hy het reeds vier operasies aan sy regterskouer ondergaan en dalk het dit daartoe bygedra om hom te laat besef hoe bevoorreg hy is om steeds te kan speel.

Hy het reeds 32 keer vir Saracens uitgedraf, kry baie hoë lof en is verlede jaar deur die spelers se speler van die jaar bo Owen Farrell, Maro Itoje en die twee Vunipola-broers vereer. Dit het gevolg nadat hy 22 uit 23 wedstryde vir Saracens gespeel het, meestal as vaskopflank, maar ook as slot.

Hy is ʼn baie harde werker, het vaart, is kliphard en nie bang om die donkiewerk te doen nie.

Dít is die soort speler na wie Jones op soek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.