Rig jou gal teen jou spelers, Wakefield

Thelo Wakefield (Foto: youtube.com)

Thelo Wakefield (Foto: youtube.com)

In vroeër jare het ʼn mens net hier en daar op provinsiale vlak ʼn gebrom van die kaptein voor die tyd van afrigters, en later ook van afrigters self, gehoor. Maar dit was altyd “van die rekord af” dat teenoor persmanne gekla is.

En behoede jou as jy dit sou gaan staan en publiseer. Daarná sou ʼn joernalis nie weer ʼn piep uit kapteins en afrigters, ook van ander spanne, gekry het nie.

Nou, in die beroepsera, het dinge verander en word jy beboet as jy amptelik teen die skeidsregters te kere gaan. En toe gaan maak die Stormers se grootbaas so (en kom boonop skotvry daarvan af. ).

Thelo Wakefield, die president van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU), het hom volgens sy Facebook-bladsy gevoeg by die toenemende neiging om kritiek teen die skeidsregters uit te spreek.

Dit is ongehoord van ʼn bond/franchise se baas. Dit is ook seker Wakefield se reg. Maar dis teen die reël en nugter weet hoekom hy bloot vermaan is oor sy optrede en nie beboet nie. Is daar twee stelle reëls vir die grootbasse en die res?

Wakefield het wel minstens nie soos die Sharks se afrigter, Gary Gold, in die TV-skeidsregter se hokkie ingestorm en hom tydens die wedstryd gekonfronteer nie, of soos die Wallaby-afrigter Michael Cheika toe hy nog die Waratahs afgerig en die skeidsregter na die wedstryd gekonfronteer het nie.

Dit laat ʼn wrang smaak. ʼn Gesiene persoonlikheid, ʼn leier in ons rugby en trouens ons voorste franchise, wat die vinger wys ná sy span verloor het.

Het Wakefield en Gold gekla toe hul spanne gewen het, of het hulle toe maar soos die gebruik en vereiste is bloot hulle verslae oor die skeidsregters ingestuur?

Daar is ook waarskynlik ʼn klompie mense wat sy slotsopmerking beskou as so ʼn skuins skimp dat Stuart Berry nie heeltemal neutraal geblaas het nie: “Have good night’s rest ‘Man in the middle’.”

Die implikasie is duidelik: Berry het die Stormers die wedstryd gekos, ondanks die feit dat hulle die meeste duikslae verbrou het, die minste teenstanders geklop het, tweede in die skrums gekom het en tien skoon breekslae deur die Lions toegelaat het en self net drie keer suksesvol was.

Die vraag is: as dieselfde beslissings die Sharks benadeel het, maar hulle het desondanks gewen, sou Gold (en sy kaptein Beast Mtawarira op die veld) steeds so tekere gegaan het? En Wakefield?

Wie het die duikslag verbrou toe die kleine Faf de Klerk van ʼn tikskoppie af tussen twee Stormers deur gaan druk het? Stuart Berry? En die ander 24 onsuksesvolle gevalle van keerwerk in hierdie wedstryd?

Miskien moet Wakefield en ander wat kerm as hul spanne verloor, eerder na neigings gaan kyk en swakpunte identifiseer en uitskakel, soos Fleck sê die Stormers ná die neerlaag gedoen het.

Die syfers hieronder is ʼn verhaal van konsekwentheid van die drie skeidsregters in die wedstryde van die Stormers teen die Jaguares, Sunwolves en die Lions. Die strafverhouding was in al drie wedstryde – beheer deur onderskeidelik Chris Pollock, Nic Berry en Stuart Berry – baie dieselfde.

Só ook dinge soos die skrums, afbreek- en omkeerbesit, lynstane en gebied- en besitvoordeel.

Strafskoppe afgestaan:
Stormers  12 Jaguares 13
Stormers 10 Sun Wolves 10
Stormers 11 Lions 10

Losskrums gewen:
Stormers 45 Jaguares 109
Stormers 53 Sunwolves 96
Stormers 56 Lions 87

Losskrums verloor
Stormers 3 Jaguares 2
Stormers 5 Sunwolves 5
Stormers 4  Lions 2

Omkeerbesit afgestaan
Stormers 9 Jaguares 23
Stormers 8 Sunwolves 9
Stormers 16 Lions 16

Besit:
Stormers 38% Jaguares 62%
Stormers 40% Sunwolves 60%
Stormers 42% Lions 58%

Gebiedsvoordeel (% in teenstander se helfte):
Stormers 37% Jaguares 63%
Stormers 44% Sunwolves 56%
Stormers 40% Lions 60%

Totale duikslae
Stormers 181 Jaguares 72
Stormers 141  Sunwolves 83
Stormers 125 Lions 76

Verbroude duikslae:
Stormers 22 (10,9%) Jaguares 32 (30,8%)
Stormers 30 (17,5%) Sunwolves 31 (27,2%)
Stormers 25 (16,7%) Lions 16 (17,3%)

Skoon breekslae:
Stormers 7 Jaguares 10
Stormers 25 Sunwolves 19
Stormers 3 Lions 10

Lynstane verloor:
Stormers 2 Jaguares 4
Stormers 2 Sunwolves 2
Stormers 4 Lions 2

Skrums verloor (insluitende strafskoppe):
Stormers 3 Jaguares 2
Stormers 0 Sunwolves 0
Stormers 2 Lions 3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Duidelik n skrywer uit die noorde. Maar dit daar gelaat. Wat word van skeidsrefters wat verbrou? Dit is die frustrasie maak hulle straf/ regstellings in die media bekend en hulle sal minder kommentaar en kritiek kry. Op die stadium weet niemand of daar iets en wat aan hulle gedoen word nie.

Brandt ·

Pieter,

Jy begin jou kommentaar verkeerd deur te verwys na die noorde.

Ek stem egter saam met jou dat die skeidsregters se straf/regstellings bekend gemaak moet word.

Thelo, ek is teleurgestel in jou optrede.

Anton ·

Mooi so, dit is hoog tyd dat die refs kort gevat word, hulle is niks spesiaal nie, selfde as n speedcop hulle beheer die verkeer op die veld en hulle loop nie op water nie, se dit soos dit is.

Piet ·

Niemand so blind soos die wat nie wil sien dat die Leeus die visvoete oorrompel het nie.
Met of sonder ‘n skeidsregter!!!

Anton KLD ·

Ook baie duidelik dat hierdie 2 menere die Suidelike onderbroek aan het. Meer statistieke dui ook aan in hoe ‘n mate die Leeus die beter span was. Gaan kyk ook sommer die wedstryd weer. Wanneer die Stormers wen is hulle die beste! Wanneer hulle verloor is dit die skeidsregter. Die Leeus moes verder gewen het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.