Roelof se teenspoed en frustrasie deur talle ander ervaar

Foto: Roelof Smit – tien minute op, agt weke af (Foto Twitter @flankerbrand)

Jy kan  nie anders as om vir die Bulls se oopkantflank Roelof Smit te voel nie.

Hy het Sondag vir die Blou Bulle as plaasvervanger teen die Sharks Vyftiental opgedraf, twee omkeerballe gewen en het toe ná sowat tien minute sy mediale kruisligament geskeur.

Verlede jaar, toe Smit saam met die Springbokspan na Brittanje en Italië getoer het, het hy sy speelkans vir die Bokke teen die Britse Barbarians gekry. Dit was egter nie ʼn toetswedstryd waarin hy sy kleure kon verdien nie, maar hy was gewaarmerk om in die toets teen Engeland te speel.

Toe skeur Smit tydens Maandag se oefening sy borsspier. Die afrigter Allister Coetzee het rondgeval, en selfs vir Pieter-Steph du Toit en Willem Alberts saam op flank gekies. Uzair Cassiem het hom by die Bokke aangesluit en in die laaste toets teen Wallis gespeel.

Smit was sedert die tweede week in November verlede jaar langs die kantlyn. Sondag is hy ná sy besering van die bank af “ingefasseer”, maar na die agt maande se aflê gaan hy nou nog tussen ses en agt weke nie kan speel nie.

Voeg daarby ʼn gewrigbesering aan die einde van 2015 en ʼn mens kry die prentjie van ʼn rugby-ongeluksvoël.

Handré Pollard het weer begin oefen (Foto: GB Jordaan)

♦  Die Bulls sal later die week eers weet of die losskakel Tony Jantjies, wat Vrydagaand in sy opdrafbuiging vir die Bulls sy ribbes beseer het, die naweek teen die Kings op Loftus kan speel.

Die goeie nuus vir die Bulls is egter dat Travis Ismaiel nou weer voluit saam met die span oefen, en dat sy vleuelmaat Jamba Ulengo soos Handré Pollard stadig met geselekteerde oefeninge ingefaseer word.

♦  Pollard ken soos Smit die frustrasie van ʼn besering net nadat hy weer begin speel nadat hy lank afgelê het.

Die Springboklosskakel het aan die einde van 2015 sy knie beseer tydens ʼn Bullsoefening waar daar nie eens kontak was nie. Dit het gevolg ná die herstel van ʼn skouerbesering wat hy in Japan opgedoen het.

Pollard het geen rugby in 2016 gespeel nie, aanvanklik vanjaar met sy terugkeer tot die veld gesukkel en het net sy vorm herwin toe hy, weer tydens ʼn Bullsoefening, sy enkel beseer het.

Hy is geopereer, het vir die Blou Bulle in die Supersportreeks gespeel, en is op die bank vir die  SA A-span se tweede wedstryd gekies. Daar is egter besluit hy is nog nie heeltemal reg nie en hy is onttrek.

Pollard het Dinsdag gehoor die Blou Bulle sal hom nou aan geselekteerde oefening begin blootstel.

Pat Lambie – rugby-ongeluksvoël.
(Foto: Facebook)

♦  Net so het die Bulls se losvoorspeler Renaldo Bothma ʼn reeks frustrasies, insluitende ʼn skorsing, te bowe moes kom – en toe is hy Vrydagaand teen die Sharks weer beseer nadat hy ná 71 minute as plaasvervanger opgekom het. Dié keer is sy arm gebreek en hy sal ook vir ses tot agt weke van die veld wes.

Bothma het onder meer in 2016 tydens sy kontrak in Japan ʼn voet beseer.

♦  ʼn Mens hoef nie eers te praat van die frustrasies van Pat Lambie wat jaarin en jaaruit beserings van verskillende aard en veral harsingskudding opdoen nie; en Arno Botha wat twee keer weens kniebeserings maande lank moes aflê  en toe met ʼn bisep/skouerbesering gestraf is voordat hy vanjaar weer ʼn knie besering opgedoen het.

♦   Daar is natuurlik talle amper soortgelyke gevalle in Suid-Afrikaanse rugby. Die jongste is dié van Juan de Jongh, wat die Stormers verlede jaar aangevoer het. Hy het nadat hy sy knieligament in Februarie geskeur het, genoegsaam herstel om die SA A-span aan te voer.

Saterdag het hy vir die Stormers teen die Cheetahs harsingskudding opgedoen en is nie vir die naweek se wedstryd teen die Sunwolves beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.