Roemenië appelleer teen Wêreldbeker-skorsing

Sione Fakaʼosilea – wettig of nie? (Foto: Facebook)

Roemenië het appèl aangeteken teen Wêreldrugby se beslissing om hom uit die Wêreldbeker-aanspraakreeks te skors.

WR het vroeër beslis dat Roemenië ʼn speler onwettig in sy span vir die toernooi om die Rugby Europa-beker en die Europese WB-aanspraakreeks ingesluit het.

In ʼn breedvoerige verduideliking op sy webwerf sê die Roemeense Rugbyfederasie (FRR) hy het in 2015 dokumente aan WR gestuur om die verkiesbaarheid van spelers uit te klaar, waarop WR hom aangesê het om dit slegs te doen wanneer daar onsekerheid oor die verkiesbaarheid van spelers bestaan.

Hy het hierop met betrekking tot die senter Sione Faka’osilea navraag by die Tongaanse Rugbyunie (TRU) gedoen, maar geen antwoord is ontvang nie, meld die webwerf.

In opvolging het die FRR vir WR om ʼn e-posadres vir die TRU gevra, waarop WR die president van die TRU, Fe’ao Vunipola, se adres aan die FRR verskaf het.

Die verduideliking lui voorts dat Vunipola bevestig het dat Faka’osilea (hy speel vir die klub Baia Mare in Roemenië) vir die Eike verkiesbaar is.

Die speler het ʼn amptelike WR-vorm onderteken waarin hy op eie verantwoordelikheid verklaar dat hy nie vir die nasionale verteenwoordigende span van sy land van herkoms gespeel het nie, en ook nie deur dié land in kennis gestel is dat hy vir die nasionale span gewaarmerk is nie, sê die Roemeense beheerliggaam.

Die FRR voer aan dit weerlê Rusland en Spanje se bewering dat hy onwettige spelers gebruik het, en hy het die verlangde dokumentasie op versoek aan WR voorgelê.

Die maande lange sage volg nadat Spanje verrassend deur die agteros België in die aanspraakreeks geklop is, en Roemenië die plek in Tokio gewen het. Spanje het ʼn beskuldigende vinger na die Roemeense skeidsregter gewys en geëis dat die wedstryd oorgespeel word. Bewerings van onwettige spelers het oor en weer gevlieg, en ná ʼn ondersoek het WR vir Roemenië, Spanje en België uit die reeks geskors.

Die skorsing van drie uit die vyf aanspraakmakers het daartoe gelei dat die plek in die WB-toernooi aan Rusland toegeken is, en Duitsland ʼn uitspeelkans teen Portugal kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.