Rohan kan vir Sharks selfs meer byt gee

Rohan Janse van Rensburg was ook ’n uitblinker vir die Lions in die Superrugbyreeks. Foto: GB Jordaan)

Met spelers soos Makazole Mapimimpi, Werner Kok en Lukhanyo Am, Aphelele Fassi en eersdaags ook Rohan Janse van Rensburg kan die Sharks met een van die gevaarlikste agterlyne in wêreldrugby spog.

Die Sharks-bestuur het gister aangekondig dat die 27-jarige Janse van Rensburg ’n kontrak van drie jaar met die KwaZulu-Natalse rugbyspan onderteken het.

Die sterk senter – van 1,83 m en 109 kg – het as’t ware die een soort haai vir die ander verruil nadat hy vir die afgelope ruk in die kleure van die Sale Sharks in Engeland gespeel het.

Die oudleerling van Hoërskool Waterkloof is ’n doring op die aanval en hy het 23 drieë in sy 73 wedstryde vir Sale gedruk.

Sy aanvallende spel kan die Durban-franchise soos ’n handskoen pas: Sean Everitt se span het in die Verenigde Rugbykampioenskap-reeks reeds 57 drieë gedruk; ’n tikkie statistiek wat hulle dan een van die aanvallendste vyftientalle in die toernooi maak.

Maar hierdie einste veggees het Janse van Rensburg ook al in die sop laat beland: Hy is verlede jaar vir drie wedstryde geskors nadat hy Exeter se Harvey Skinner met ’n gevaarlike duikslag platgetrek het.

Sale het in ’n kort verklaring hulde aan die Suid-Afrikaanse ster gebring.

“Almal hier by Sale Sharks wil Rohan vir sy reusebydrae tot die klub bedank en ons wens hom alle sukses vir sy toekoms toe.”

Janse van Rensburg het destyds die Sale-rugbybase beïndruk toe hy drie drieë in sy agt wedstryde as ’n Lions-leenspeler gedruk het. Hy is ’n rukkie later ’n permanente kontrak aangebied.

Die Sharks is deesdae ’n tuiste vir hoëprofielspelers nadat Siya Kolisi, Bongi Mbonambi en Eben Etzebeth ook kontrakte met die Durbaniete gesluit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Manie ·

Wat is die salaris perke op SA spanne, want soos die Sharks en Bulls die afgelope tyd gekoop het, moet hulle vir seker die perke oorskry. Die hoë profiel spelers wat gekoop is kom teen hoë salarisse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.