‘Rolmaal is ons enigste redding’

Danie Gerber (Foto: sporting-heroes.net)

Danie Gerber (Foto: sporting-heroes.net)

Die rolmaal is nog al redding vir Suid-Afrikaanse spanne. As dié reël verander, is ons in die knyp, want ons kan nie drieë druk nie.

Dis `n ou ding – ons gebrek aan drieë – wat nou weer deur die oud-Springbokbreier André Markgraaff uitgelig word. Hy kry ondersteuning van die Doring van Despatch, wat sê hy sukkel deesdae om Superrugby te kyk.

“Ons rugby word opgeneuk deur die beheptheid om merendeels met die voorspelers aan te val. Dit is regtig nie aantreklike rugby nie,” het Danie Gerber aan Netwerk24 gesê. En dit kom van `n man wat 15 drieë in sy 19 toetse gedruk het.

Net vir `n bietjie perspektief: Ná sewe wedstryde het die Stormers en die Bulls nog net 13 drieë aangeteken, die Sharks 16 (agt wedstryde), die Cheetahs 15 en die Lions net 8 (na agt wedstryde). Die Crusaders het 25 (agt teen die Sharks!), die Hurricanes 21, die Brumbies 21 en die Chiefs 20. Ons is net bo aan die lys van duikvatte, waar die Lions se Warren Whiteley (121) en Warwick Tecklenburg (120) 20 duikvatte voor hul naaste teenstanders is.

Vaardigheidsvlakke

Markgraaff sê daar is rede om bekommerd te wees oor ons spelers se vaardigheidsvlakke.

“Ons is reeds van laerskoolvlak te patroongebonde. Ons kan nou maar eenmaal nie soos die Nieu-Seelanders aanval nie. Ons moet hoop die vertolking van die rolmaalbeweging – wat `n klug is – verander nie, want dan gaan ons groot probleme hê. Ons ander redding is dat ons so baie talentvolle spelers het.”

Verskeie afrigters het al gepleit dat ons spelers moet speel wat voor hulle is, maar dan is dit ook húlle wat die patrone bepaal, seker omdat dit net `n brug te ver is wanneer daar nog senior spelers is wat sukkel om na regs uit te gee of wat net van een voet kan aftrap.

Tot dusver het die Kiwi’s 90 drieë, die sukkelende Aussies 70 en ons spanne net 65 gedruk. Verlede jaar was die syfers 223, 216 en 156.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henk ·

Die probleem le beslis nie by die spelers nie. Kyk na die briljante agterlyn spelers waarmee die Bulle byvoorbeeld sit. Piet van Zyl was onkeerbaar om die skrums tot hy na die Bulle geskuif het. Serfontein het die op senter die toneel betree en almal het gesien hoe ons ‘n BETER senter as Gerber ontdek het. Wat het nou van die twee geword?
Die probleem le by ons afrigters wat een dimensioneel dink en NIE die vermoee het om rugby ordentlik af te rig nie. Dit word sterk ondersteun deur die feit dat die nasionale afrigter sy patroon, wat terloops die stampkarrugby patroon is, op al wat ‘n span is wil afdwing. Spelers aanvaar dit onverwyld want hulle het groot drome om vir die Bokke te speel.
Die dag as elke span weer sy eie patroon op sterkte van sy spelers se vermoeens begin speel, dit sal die dag wees waarop ons weer aanskoulike rugby in SA sal sien.
Die stampkar ding is ABSOLUTE obstruksie. Dit is begin deur Meyer en hy het Watson gekry om dit via die skeidsregters by die IRR te regverdig tot ergenis van spelers en toeskouers. NERENS in enige reelboek staan dit geskryf dat jy van ‘n lynstaan af obstruksie kan pleeg ten einde jou span oor die doellyn te kan kry nie.
Hopelik is die gerugte dat die IRR die gemors na die wereldbeker op ‘n einde gaan bring die waarheid en nie net nog ‘n gerug nie.

Theo ·

Ja ek moet se, ek mis ook die bal handteering en hardloop rugby van n Os du Randt regdeur tot n Gysie Pienaar. As die genoemde reel verander kan ons dalk weer innoverende rugby in span verband sien.

Sarel ·

Dis straks snaaks dat dit so lank gevat het vir mense om keelvol te raak vir vrot gewoontes in rugby. Kom ons begin by die basiese goed: wanneer laas het n persoon wat afskop dit van agter die lyn gedoen? nog beter was die spelers nie voor die bal nie? Die verdedigende speler kan begin verdedig sodra die skrumskakel sy hande op die bal het nie meer wanneer hy dit uitgee nie(nonsens)! Ons skrumskakels moet eweskielik elke bal skop en die druk van die losskakel afneem ala Fourie du Preez twak! Skoenmaker hou jy by bou lees! Laat ons teruggaan na die eenvoudige goed in rugby dit goed doen en dan kan ons mooi goedjiees doen. Ons sien in die WP dat as hulle eerstefase reg is dit goed gaan. Vrystaat en die Leeus doen dinge reg. My opinie moet Serfontein die Leeus en Vrystaat smeek vir n plek al verloor hy geld. Hy het tog gese hy wil rugby speel dit wat die bulle doen is so vervelig my oorlede ouma sal opstaan en vrae of die patroon al verander het net om weer in haar graf om te draai en te rus vir nog twintig jaar. Ek persoonlik wens dat mense luister as Naas praat , Rassie Erasmus wat deur die WP weggejaaagg is oor politiek en Johan Ackerman maak ook sin. Die mense kan dink wat hulle wil maar die Springbok patroon is so voorspelbaar en die manne so oud dat ek wonder of mense nie eerder moet rolstoelle vir Matfield Bismarck en Jannie moet gee voor hulle die veld opgaan nie. Ons sit met die beste stutte in die WP en Leeus en wat n hakker het ons in Akker iemand wat kan ingooi in n lynstaan (doen eers jou werk voor jy in die agterlyn wil vleul speel). Ag ek weet een ding is n feit ons doen die basiese nie reg en wil almal was hoe oulik ons is maar ons doen die basiese nie reg so maklik soos dit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.