Rome, of Loftus, is nie binne ʼn dag gebou nie

Watter Suid-Afrikaanse span het tot dusver die minste punte in die SA afdeling van die Superrugbyreeks aangeteken?

Die Bulls met 112 teenoor die Lions se 232, die Stormers se 160 en die Sharks se 124.

Watter SA span het die grootste negatiewe punteverskil? Die Bulls.

Watter SA span het die minste drieë gedruk? Die Bulls (15) teenoor die Lions (34), Stormers (19) en Sharks (17).

Watter SA span het tot dusver die meeste geel kaarte gekry? Die Bulls (4) teenoor die Stormers en Sharks (albei 1) en die Lions geen.

Watter SA span het die tweede meeste strafskoppe afgestaan? Die Bulls (53) teenoor die Stormers (55), Lions (48) en Sharks (49).

Watter SA span het nie een speler in die toptien wat verdediging aanbetref nie? Die Bulls.

Watter SA speler het die tweede meeste strafskoppe afgestaan? Die Bulls se Lizo Gqoboka (5), dit terwyl hy meestal nie in die opdrafspanne was nie.

Is daar enige Bulls-speler tussen die toptien wat die verste met die bal gevorder het of die meeste verdedigers geklop het? Nee.

Skrum die Bulls goed genoeg? Nee.

Statistieke, soos dié van Opta Sports, kan soms misleidend wees, want dit hang baie van jou teenstanders af, of jy tuis of weg speel, of jy onder druk geplaas word en hoe en of jy by die skeidsregter se vertolking van die reëls kan aanpas.

Maar dit moet kommerwekkend en ʼn rigtingswyser vir die afrigter, John Mitchell, wees. Dit moet die ondersteuners opnuut laat besef dat dit ʼn hele paar seisoene sal neem om ʼn patroon te vestig.

Die Lions het nie oornag dit reggekry om hul denk- en spelpatroon te wysig nie. Dit het jare geneem.

Vergeet dus van korttermynsukses, wat wel belangrik is, is dat daar weekliks vordering moet wees, dat die spelers se basiese vaardighede, soos hantering en besluitneming moet verbeter.

Daar gaan nog baie blou Maadae wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.