Rooi Drake te sterk vir kanniedood Barbarians

Shaun Stevenson op pad na sy drie in die tweede helfte. Foto: Twitter

Hulle mag dalk ’n rukkie neem om vlam te vat, maar wanneer die Barbarians iewers in die tweede helfte besluit om rugby te speel, moet jy nogal jou storie ken om hulle in toom te hou.

Wallis was weliswaar vandag met 43 – 33 die wenners op die Principality-stadion, maar die Baa-Baas het hulle góéd skrik gemaak: In ’n stadium was die telling 40 – 12 in die tuisspan se guns.

Barbarians-rugby word gekenmerk deur die lekker avontuurlustige spel van ’n mengelmoes rugbylande en dinge het uiteindelik in die tweede helfte vir hulle begin uitwerk.

Shaun Stevenson, Curwin Bosch, Craig Millar en Pete Samu het gesorg vir vier blitsige Barbarians-drieë en met die telling op 40 – 33, het Wallis eerder op ’n stelskop besluit toe hulle láát in die wedstryd ’n strafskop diep in die Barbarians-halfgebied gekry het.

Het hulle nog ’n voorsprong van 28 punte geniet, sou hulle waarskynlik probeer het om nóg ’n drie te druk.

Maar dit daar gelaat.

Rory Best en Schalk Brits het vandag hul laaste rugbywedstryde gespeel. Foto: Twitter

Dit was mooi om te sien hoe Warren Gatland (vir Wallis) en Rory Best en Schalk Brits (vir rugby) met só ’n vertoonwedstryd kon groet.

So van Brits gepraat, toe hy in die 51ste minuut Ierland se legendariese Best vervang het, het hy die horlosie teruggedraai en met die vryheid van ’n 18-jarige gespeel.

ʼn Mens sal beslis sy persoonlikheid en vaardighede op die rugbyveld mis.

Onder die ander Suid-Afrikaners in die Barbarians-groep het Curwin Bosch met sy reuseskoppe beïndruk, terwyl André Esterhuizen ’n doring in die Drake se vlees op senter was.

Op die ou einde het die Barbarians dinge net té laat gelos om dié een te wen.

  • Puntemakers:

Wallis: Drieë: Josh Adams (2), Johnny McNicholl, Ken Owens (2) en Gareth Davies. Doelskoppe: Leigh Halfpenny (5). Strafskop: Halfpenny.

Barbarians: Drieë: Josh Strauss, Curwin Bosch, Shaun Stevenson, Craig Millar en Pete Samu. Doelskoppe: Bosch (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

bokka ·

Johann, ek wil ‘n voorstel maak dat jy die spanne ook noem aan die einde van sodanige berigte. Dis nogal interessant om te weet wie almal gespeel het, dankie.

Frans C ·

Noordelike halfrondspanne is glad nie skaam om oorseese spelers in te span sodra hul kwalifiseer en Johnny McNicholl ‘n gebore NZ-lander het tot 2016 nog vir die Crusaders gespeel.

Dit sal mi alhoemeer gebeur in die toekoms dat ons veral Suid Afrikaans gebore spelers
teen die Springbokke in aksie sal sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.