Rooi gesigte oor woer-woer skop

Finn Russel se mislukte poging (Foto dailymail.co.uk)

Finn Russel se mislukte poging (Foto dailymail.co.uk)

Daar was Saterdag in St. Denis, Parys ʼn hele paar rooi gesigte toe die Skotse losskakel, Finn Russell, met ʼn doelskop onder die pale in die Sesnasies-toets teen Frankryk misluk het.

Russell, wat ʼn betroubare stelskopper is en reeds met 450 punte vir Glasgow Warriors in slegs 59 wedstryde spog, was te oorhaastig nadat een van die hulpafrigters Nathan Hines van die kantlyn af geskree het “skop dit, skop dit”.

Dit is gedoen om te verhinder dat die skeidsregter, Jaco Peyper  van Suid-Afrika, weer na die drie op die groot televisieskerm kyk nadat een van die Skotte die Franse heelagter, Scott Spedding, sonder die bal gestamp het voordat die drie gedruk is.

Die bal het omgeval, maar in plaas daarvan om dit weer te stel of te skepskop, het Russell dit probeer skop en die bal het onder die dwarslat getrek.

Sou dit ʼn verskil aan die eindtelling gemaak het? Ek glo nie, want die Skotte is met 21-16 geklop en as die drie na die televisieskeidsregter verwys sou word, sou daar na alle waarskynlikheid eerder ʼn strafskop aan die Franse toegeken gewees het.

Maar dit sal spanne dalk twee keer laat dink om vinnig pale toe te skop voordat die skeidsregter ʼn drie kan bevraagteken.

Russell hoef nie sleg te voel nie, want baie stelskoppers het voor hom ook al verbrou, en dit sal weer gebeur.

Wat van die gewese Wallaby-losskakel Michael Lynagh wat in 1991 in ʼn toets teen Wallis met agt skoppe (ses doelskoppe en twee strafdoele) misluk het? Die Wallabies het steeds met 63-6 gewen, maar as Lynagh met al sy skoppe in die kol was, sou die telling 81-6 gewees het.

Volgens espn.co.uk hou die twee Argentynse stelskoppers Germán Bustos en Juan Fernando Miranda die rekord vir die meeste stelskoppe wat in ʼn toets verbrou is, want tussen hulle is daar 12 keer misgekorrel in ʼn toets in 2003 teen Uruguay. Die Poemas het steeds met 144-0 gewen.

Percy Montgomery (ses doelskoppe) en Jaco van der Westhuyzen (twee doelskoppe) het in 2005 ook skeef teen Uruguay in Oos-Londen gekorrel.

Die Bokke het steeds met ʼn allemintige 134-3 gewen, maar dit kon selfs 150-3 gewees  het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Ja en ek onhou vir Calla Scholtz wat in currybeker wedstryd vir die WP reg voor die pale misgeskop het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.