Rooikaart, taktiese voortreflikheid kelder Lions se droom

Taktiese voortreflikheid, drama, ʼn rits rekords, en uiterste teleurstelling.

Dit was alles deel van Saterdag se grootse geleentheid op Ellispark waar die Lions die Superrugby-eindstryd teen die Crusaders met 17-25 verloor het en nie die afskeidsgeskenk vir hulle afrigter Johan Ackermann kon gee nie.

Die stryd het heelwat van sy woema verloor toe Kwagga Smith twee minute voor rustyd met ʼn rooikaart afgestuur is. Die wenspan was toe reeds 12-3 voor teen die Lions wat met opskietverdediging vasgevat is, en ook nie heeltemal hulle ritme kon vind nie.

Die afstuur van Smith was die regte besluit volgens die reëls maar desondanks ʼn ongelukkige een. David Havili het vir die bal gespring, Smith nie, en die verpligting wat op die flank gerus het om na die heelagter se veiligheid om te sien, was afwesig.

Dié soort dinge gebeur op die ingewing, maar die reël is die reël.

♦  Wat betref die rekords: die Crusaders se afrigter Scott Robertson is die eerste man wat as speler en afrigter die Supertrofee kon vashou; die span het sy rekord na agt oorwinnings in 12 eindstryde gevoer en die eerste span geword wat ʼn eindstryd aan die ander kant van die Indiese Oseaan kon wen; die rooikaart; en die Lions wat nou die enigste span is wat in twee opeenvolgende eindstryde nie ten minste een van hulle kon wen nie.

♦  Die Lions het wel pragtig in die laaste 25 minute teruggeveg en twee drieë gaan druk. Tog was hulle in die eerste 20 minute of so nie heeltemal aangeskakel nie en het hulle met ʼn fout op die aanval die Crusaders se vleuel Seta Tamanivalu kans gegee om sowat 80 m te hardloop vir ʼn omkeer-drie wat eintlik na die Lions moes gegaan het.

Voor hulle hul oë kon uitvee, was die Lions met 0-12 agter wat deur ʼn lang strafdoel van Elton Jantjies na 3-12 verminder is. Hulle was rustyd met 3-15 agter.

♦  Smith se afstuur het die Lions feitlik enige kans ontneem om die agterstand uit te wis en die wedstryd te wen. Die Crusaders het benewens hulle opskietverdediging ook in die gebroke spel min duikslae laat glip.

Hulle het ook die maklik en te dikwels in die eerste 25 minute of so omkeerbesit by die afbreekpunte gesteel wanneer die Lions gelyk het of iets van ʼn aanval sal kom.

Die verdediging om die losskrums was ook uitstekend – hoofsaaklik omdat die Crusaders nie te veel manne aan die afbreekpunt afgestaan het nie en die dryfbewegings van die Lions rondom hierdie faset makliker kon teenwerk.

Wanneer die bal egter van die losskrums na Elton Jantjies-hulle gespeel is, was die voorspelers ook op die onkantlyn om die opskietverdediging van hulle agterlyn verder te versterk.

Die gevolg was dat die Lions se gewone lekker aanvalle nie moontlik was nie en dat Jantjies nie veel meer as ʼn skakel kon wees nie.

Dit het ook ʼn ongekende skuinshardlopery van die Lions met die bal in die hand veroorsaak.

Verdere probleme was onder meer dat drie aanvallende lynstane deur die Crusaders gewen is; ʼn afskop wat direk uitgeskop is en van die skrum op die middellyn weer die besoekers op die aanval help plaas het; en dat daar te dikwels onder die druk in Crusaders se  hande geskop is om met teenaanvalle, maar veral met skoppe vir gebied, terug op die aanval te kom.

Self het die Crusaders ook hulle gebruiklik aanvallende spel gespeel wanneer die geleentheid daar was. Gapings is geskep, die bal het die werk gedoen en ʼn goeie vertoning goed afgerond.

In die laaste 24 minute het die Lions mooi teruggeveg, hier en daar goed aangeval, maar steeds te veel besit afgestaan en daarmee geleenthede verlore laat gaan.

Puntemakers –

Lions (3) 17:  Drieë: Malcolm Marx, Corné Fourie.  Doelskoppe: Elton Jantjies 2. Strafdoel: Jantjies.
Crusaders (15) 25: Drieë: Seta Tamanivalu, Jack Goodhue, Kieran Read. Doelskoppe: Richie Mo’unga 2. Strafdoele: Mo’unga 2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Frans C ·

10.4 (i) Lees soos volg:
Tackling the jumper in the air. A player must not tackle nor tap, push or pull the foot or feet of an opponent jumping for the ball in a lineout or in open play. Sanction penalty kick.
Die volgende beslissings in deur die IRb sover ek kon vasstel gemaak:
Challenging players in the air – Law 10.4(i)

Play on – Fair challenge with both players in a realistic position to catch the ball. Even if the player(s) land(s) dangerously, play on
Penalty only – Fair challenge with wrong timing – No pulling down
Yellow card – Not a fair challenge, there is no contest and the player is pulled down landing on his back or side
Red card – It’s not a fair challenge with no contest, whilst being a reckless or deliberate foul play action and the player lands in a dangerous position

Smith se aksie was nie die van ‘n speler wat meegeding het op die bal,hy was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd en ‘n mens kan sien dat hy sy kop wegdraai,toe hy besef dat hy met die speler in die lug gaan bots.

Mnr Peyper is sterk beinvloed oor dit wat kon gebeur het met die speler.Maar dit het nie gebeur nie en die speler het daarna onbeseerd voort gespeel.Dus ‘n geelkaart en strafskop
sou meer regverdig gewees het.Die skeidsregter het dus as het ware die wedstryd
eensydig vir die Leeus beëindig.

Realis ·

Suur druiwe? Die Leeus se ondersteuners het vroeër vandeesweek gedink met Pyper as skeidsregter, is hul span so goed as die nuwe kampioene. Nou skielik, is hy vyand nommer een. Nee wat, vat julle pak soos ‘n man…

Frans C ·

Nee wat Realis, dit is vir my nie ‘n kwessie van suur druiwe nie,maar een van toepassing.

Onthou die oorspronklike ‘wet’ maak geen melding van ‘n rooi kaart nie.Dit is gegrond op ‘n ooreengekome IRB vertolking om spelers te beskerm.Die volgende elemente moet dus aanwesig wees om ‘n rooi kaart te verdien
“Red card – It’s not a fair challenge with no contest, whilst being a reckless or deliberate foul play action and the player lands in a dangerous position”.

Feit is Smith het nie om die bal meegeding nie , hy was op vol spoed na die bal toe en het nie ‘n ‘reckless or deliberate foul play action’ uitgevoer nie met die voorneme dat die speler wat spring in ‘”and the player lands in a dangerous position”.

Onthou nou aspelers altwee regverdig om die bal meeding en een so val dat hy sy nek breek is daar nie ‘n geel of rooi kaart of strafskop nie.Dit is dus nie ‘n kwessie van ‘n pak vat nie maar wel ‘n geval van regverdige besluitneming en dit is die punt wat jy moet beredeneer.

‘n Beter opskrif in engels sou gewees het :”Fourteen Lions go fighting down” amper sou erg
soos in 1956 toe die Springbokke met 13 spelers, so amper die All Blacks pak gegee het.
Ek sê ook nie die Leeus so gewen het nie,maar wel dat dit beslis ‘n wedstryd kon gewees het waar die uitslag altyd in die weegskaal sou wees..

vrikie ·

Die TV skeidsregter het die rooikaart beslissing gemaak en nie Peyper nie

Ja-nee ·

Die Leeus was heel week te self voldaan dat hulle gaan wen. Luister en kyk na Jaco Kriel se woorde en lyftaal, het altyd ‘n grappige houding gehad asof die wedstryd al klaar gewen is. Het ook elke aand, weereens met ‘n smile op sy gesig, gese hy speel elke aand die wedstryd as hy gaan slaap. Daarteenoor was die Crusaders baie ernstig oor die wedstryd en het geweet dit gaan ‘n moeilike wedstryd wees en het aanvaar dat hulle nie maklik sal wen nie, dus die regte houding.

Nico ·

Pyper het vir geleentheid gesoek om sy span deur te help maar All Blacks was te slim vir hom. Hulle het die sielkundige speletjie teen hom gewen. Rooies het verder veekeerde plan in eerste helfte gehad.

anton ·

Ek is is groot leeu ondersteuner. Maar Peyper was swak. Geen suur druiwe. Sit 15 teen 15. Crusaders het nie verdien om te wen. Trots op die Leeus.

Nico ·

Anton, Pyper was al ongeveer 4 jaar gelede swak toe hy die relugasie wedstryd in die Baai op ‘n skinkbord aan die leeus gegee het.

Frans C ·

In die berig word melding gemaak dat ‘Israel Dagg het vir die bal gespring’ nee dit was die heelagter Havili wat vir die bal gespring het.

Josua Keys ·

Ons vat die verloor soos ‘n man, Jaco Pyper het laasweek al amper gesorg dat die Leeus verloor het, so die wat dink ons was bly toe ons hoor Pyper blaas maak een Huge vout, ek was laasweek op Ellispark en wat ons die joos in gemaak het was die blatante miskyk van oortredings aan die Hurricanes se kant deur Jaco Pyper en weereens het dit die keer weer gebeur. As julle wil sê ons het nou suur drywe wil en net sê, kyk asb weer die opname van die wedstryd. Pyper was te bang om die Crusaders te straf man, veral hul voorry wat knaand die skrum laat val en na binne geskrum het, en om nie eens te praat van toe Jantjies se voete onder hom uit geplik was en hy in die grond in geboor was nie, waar was toe die toepassing van die reel nou skielik heen dit het gely tot die Crusaders se eerste drie, waarom het die TV skydsregter dit nie uitgewys nie. Om terug te kom na Kwagga se geval en reeds hierbo verduidelik is, die speler in die lug het nadat Kwagga met hom kontak gemaak het op een van sy eie spelers geval wat die gevaarlike val veroorsaak het maar dit was nie eens melding van gemaak nie. So ouens julle wat sê ons het suur Drywe dis juis julle wat daaraan smul want jul spanne kon nie vermag wat die leeus vir n tweede jaar kon regkry nie.

Peet ·

Wel, die Bulle kon darem al drie keer die trofee in hulle kassie bêre, waarvan twee jaar agter mekaar.

Kobus ·

Ek gee nie om wat enige iemand se nie. Jaco jul het my trots gemaak, staan sterk en bring vir ons die tri nations !!

Nico ·

As n speler spring vir die bal soos in die geval is hy net so gevaarlik vir ander spelers rondom hom wat as sy knie of toks die ander speler tref teen die kop gaan hy ook afgejaag word vir vuil spel

Andries ·

Die oomblik toe Kwagga die rooikaart ontvang het kon Peyper net sowel die eindfluitjie blaas. Bly ek het nie geld gemors vir so eensydige affere nie. Die hele week is Peyper as blaser vir die eindstryd gekritiseer en in die NZ pers aangeval vir die vooroordeel jeens die plaaslike span. Dit glo ek, het sielkundig sy besluite op die veld beinvloed. Swak! Lions, om met 14 man steeds teen 16 te speel en met slegs 8 punte te verloor, maak julle steeds kampioene in my boek!

Realis ·

‘n Week gelede toe ‘n bevraagtekenbare geel kaart vir die Hurricanes ‘n ommeswaai van 17 punte in daardie tien minute vir die Leeus meegebring het, was daar geen klagtes agterna van Leeu ondersteuners oor Pyper dit gedoen het nie. Hierdie week, na ‘n roekelose stormloop deur Kwagga Smit wat ‘n rooikaart op aandrang van die TV-skeidsregter meegebring het, kruisig julle vir Pyper en huil lang trane oor die “onregverdigheid” daarvan. Nee wat, die Leeus was te seker van hul saak en op die einde, nie goed genoeg nie. Suur druiwe? Beslis ja!

Frans C ·

Realis jy raak nou verspot en onrealisties.Roekeloos gestorm sê jy.Twak man
Smith het bloot die hoë skop gejaag en het nie geweet wie vir die bal gaan spring nie.Selfs die berigskrywer het dit oorspronklik verkeerd gehad en is dit nou reggestel.
Onthou alle NZ spelers word geleer dat as jy vir so’n bal spring,jy met een been se knie vorentoe spring,dus daarmee lei..Heelagter Smith van die Highlanders is ‘n uitstekende voorbeeld. Dit maak dit feitlik onmoontlik om saam met die man om die bal mee te ding,want sy knie gaan jou tref en dan is jy die skuldige en nie hy nie.
As daar meer as een speler in ‘n posisie is om die bal te vang kan die speler wat die bal jaag
nie vooraf weet wie gaan spring nie en hom sodoende vermy nie.Onthou spelers se skoene
het nie ingeboude ABS-stelsels nie en het sy momentum hom in aanraking met die speler in die lug gebring.Daar was dus niks opsetlik of roekeloos nie.

Nou het die skeidsregter en sy assistente hul weer laat lei deur stadige terugspeel.So word
elke element waaruit dit bestaan ontleed en ontvang alle elemente nie gelyke oorweging nie,wat daar was kontak ,een element,niks dat Smith sy kop weggedraai het nie toe hy besef hy gaan nie die botsing vermy nie.

Die geelkaart was nie vir speel in lug.

Josua Keys ·

Gaan lees asb my skrywe hierbo en die uiteensetting van die reel deur Frans, dalk leer jy iets daaruit, om jou n idee te gee, in laasweek se wedstryd as Rasta nie vir Pyper gesê het dat die leeus gedruk het nie sou Pyper nie daardie drie toegekan het nie en ook nie na Jonker verwys het nie en met Marius Jonker wat die TV skydsregter was wat ook nie n goeie geskiedenis as blaser teen die leeu wedstryde gehad het nie kan n ou dit nogal verstaan, As die leeus met vyftien spelers verloor het sou dit makliker aanvaar word, Kwagga kon net sowel harsingskudding opgedoen het in die voorval toe hy met sy kop in die speler vas hardloop en ek sê weer, kyk na die terugflits die speler het bo op sy eie man geval voor hy die grond getref het, Kwagga se geval was nie eens n geelkaart werd volgens die reel nie maar wel Jantjies toe sy bene onder hom uit gelig(boorvat) was en dit het reg voor Pyper gebeur en Jonker het niks gesê nie. Dit is net teleurstellend dat die wedstryd deur swak beslissings versuur was as die Leeus voltallig was het laasweek se wedstryd homself herhaal.

Realis ·

Frans C, “bloot ‘n hoë skop gejaag” sê jy… Soveel so, dat hy ten aanskoue van ons almal die Crusaders se heelagter in die lug laat bollemakiesie slaan het en dis nie roekeloos nie! Hoe lui die spreekwoord? In die land van die blindes is ou eenoog, nee ou Leeu-oog koning. Julle is net suur, aanvaar nou maar dis nie die skeidsregter se skuld dat julle span verloor het nie en vat julle pak soos manne.

Willie ·

Ek as groot Leeu ondersteuner aanvaar die verloor, en sê geluk aan die Crusaders. Daar is net een probleem, dit moes nie ‘n Suid-Afrikaanse of Nieu-Zeelandse skeidsregter gewees het nie. So plaas dit onnodig druk op die skeidregter en is dit baie maklik om, met die doel om regverdig te wees dan die ander span te bevoordeel.

Robert ·

Ek voel in elk geval dat so reël ń span en wedstryd onnodig negatief affekteer. Die reël kan so gewysig word om die oortreder die trekpas te gee , kan dan 10 minute sonder die speler speel as straf vir die oortreding en dan vervang word met ń nuwe speler om die span weer voltallig en mededingend te maak .

vrikie ·

Dalk n reel inbring wat spelers verbied om vir die bal te spring behalwe in die lynstane. Die Crusaders was sielkundig sterker as die Leeus en ek glo hulle sou steeds die wedstryd gewen het al was hulle die span met 14 spelers

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.