Rooijan sou amok gesaai het

Jan Ellis, kenmerkend met die bal in een hand. (Foto The McLook Collection)

Jan Ellis, kenmerkend met die bal in een hand. (Foto The McLook Collection)

2 Januarie: die dag waarop Jan Ellis amptelik vir die nuwe seisoen begin oefen het.

Ellis, `n alleenloper in sy speeldae, het tussen 1965 en 1976 in 38 toetse (74 wedstyde) vir die Bokke gespeel (destyds `n rekordgetal) en `n ongehoorde sewe drieë gedruk. Hy het net een toets misgeloop, in 1969 teen Engeland  toe hy beseer was.

Ellis, wat in Brakpan gebore is, se gesin het vroeg in sy lewe na Gobabis in die destydse Suidwes-Afrika verhuis. Hy was kaptein van Suidwes se skolespan en het in 1962 op 20-jarige ouderdom op slot teen die Britse Leeus uitgedraf. Die Leeus kon net met 14-6 wen en die jong Ellis was een van die uitblinkers.

Hy het na Pretoria verhuis om sy drome te verwesenlik, maar om die een of ander rede is dié balvaardige speler se talente nie raakgesien. Dit was in die dae toe `n slot net `n paar balle in die lynstane moes wen, een of twee af- en inskoppe moes vang en skrum. Dit was in die dae toe losvoorspelers net moes têkkel en nie met die bal rondhardloop nie.

Hy het na Windhoek teruggekeer en daar sy loopbaan as een van Suid-Afrika se beste flanke uitgekap. Hy was ná Sias Swart (1955) en Loftie Fourie (1958) Suidwes se derde Springbok en daar het hy op sy eie teen die duine en teen die koppies fiks geword – met bakstene en klippe op sy rug en in sy groot hande.

Hy het `n nuwe dimensie gebring, want hy kon systap en swenk en wanneer hy op loop gegaan het, het hy die bal in een van sy hande vasgeklem.

Ellis, wie se bynaam Rooijan of die Rooi Tier oor sy vlamrooi hare was, het `n vinnige humeur gehad en was `n man van min woorde. Die wat hom nie geken het nie, selfs van sy spanmaats, het hom as nors beskou. Hy het die pers en onthale vermy en het eerder alleen in die spanbus op sy spanmaats gewag. Op toer was hy altyd vroeg met `n boek in die bed.

Daar word vertel dat Ellis tydens die Bok-toer van 1969-1970 in Brittanje byna huis toe is nadat hy en die afrigter Avril Malan haaks was. Ellis was reeds op op pad lughawe toe toe hy oorreed is om aan te bly.

Ironies genoeg was hy aan die einde van sy loopbaan kaptein van die destydse Transvaalspan (in 1975 en 1976), het hy `n afslaer geword, waar die woorde oor sy lippe gerol het. Hy het later ook `n vulstasie besit, waar hy onder `n gewapende rooftog deurgeloop het wat `n groot invloed op sy gesondheid gehad het voordat hy in 2013 in Pretoria oorlede is.

Sou Ellis vandag ingepas het?

Met die regte leiding en bestuurspan gewis, want hy sou soveel meer kanse gehad het om amok te saai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pietsepan ·

Let op dat hy nie oormatig gespierd was soos die hedendaagse spelers wie se uithouvermoë deur die ekstra massa spiere verminder word nie.

Poot ·

Pieter Kruger
Verduidelik asb vir my hoe speel mens in 38 toetse 74 wedstryde.

Milan Bye ·

Jan Ellis het in 38 toetse gespeel en het in die dae van internasionale toere ook `n verdere 36 toerwedstryde teen provinsiale en streekspanne tussen die toetse deur gespeel – `n totaal dus van 74 wedstryde. Springbokspanne was gereeld drie maande van die huis af op toer waartydens dikwels meer as 30 wedstryde deur die toerspan gespeel is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.