Rooiwarm Blitsbokke skop goed af

Blitsbokke (Foto: Twitter via Springbok Sevens)

Die Blitsbokke het vroeg Saterdagoggend in Singapoer nog ʼn Nieu-Seelandse rekord uit die boeke gevee toe hulle Kanada met 31-5 in hul eerste wedstryd van die Singapoer-sewestoernooi geklop het.

Die Blitsbokke het hul 35ste agtereenvolgende oorwinning behaal en verby die Nieu-Seelandse spanne van 2001/’02 geskuif wat 34 opeenvolgende seges behaal het.

Die Kiwi’s se algehele rekord van 47 oorwinnings wat hulle tussen 2007/’08 behaal het, wink nou vir die Blitsbokke om as die suksesvolste span in Wêreldrugby se sewesreeks te word.

Die Blitsbokke het glad nie goed begin nie toe Kanada die voortou met 5-0 geneem het ná ʼn drie deur David Richard.

Maar soos ons nou al daaraan gewoond geraak het, het die Blitsbokke kalm gebly en hul wedstrydplan perfek uitgevoer.

Dit was net ʼn kwessie van tyd voordat die vaart, hantering, ondersteuning en taktiese skoppe tot drieë gelei het en die oorwinning maklik verseël het.

Die immergroen JC Pretorius was weer een van die groot uitblinkers met sy twee drieë, die planmaker Selvyn Davids en die kaptein, Siviwe Soyizwapi, was ook prominent op die aanval.

Punte: Suid-Afrika 31 (12): Drieë: JC Pretorius (2), Siviwe Soyizwapi, Darren Adonis, Selvyn Davids. Doelskoppe: Ronald Brown, Dewald Human (2).

Kanada 5 (5): Drie: David Richard.

Ander uitslae: Ierland 21. Fidji 12; Frankryk 36, Japan 14; Ierland 21, Fidji 12; Skotland 26, Wallis 24; Nieu-Seeland 12, Argentinië 10; Engeland 19, Spanje 14; Australië 26, Samoa 17; VSA 12, Kenia 10; Fidji 26, Frankryk 19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.