Rosko se Bloem-skuif ook goeie nuus vir Blitsbokke

Rosko Specman. Argieffoto.

Een van die lekkerste dinge in sewesrugby is om vir Rosko Specman op volle vaart te sien.

Sy rastalokke wapper dapper in die lug, sy voete is vinniger as John Travolta s’n in Grease en hy befomfaai gereeld enige verdediger se planne.

Soos wat sy destydse afrigter by die Pumas, Jimmy Stonehouse, gesê het: Rosko Specman is ongetwyfeld ’n spesiale speler wat gereeld vir ’n bietjie Specmagic kan sorg.

“Buiten die feit dat hy baie vinnig is, is die werklike verskil tussen hom en ander spelers waarskynlik sy vaartversnelling van die merkie en sy voetvaardighede,” het Stonehouse al vir Maroela Media gesê.

Nou keer die 31-jarige terug na die Vrystaatse Cheetahs – ’n unie vir wie hy in ’n paar Pro14-wedstryde in 2017 uitgedraf het, voordat hy Superrugby vir die Bulls begin speel het. Hy het ’n kontrak van twee jaar met die Bloemfonteiners onderteken.

En hoewel Specman sy stempel op Loftus Versfeld afgedruk het – wie sal daardie drieë teen die Stormers in die 2019-Superreeks vergeet – sien die Vrystaters uit na sy koms in Julie.

“Ons is baie bly dat hy sy rugby hier gaan kom speel; Rosko is ’n wonderlike speler en beskik ongetwyfeld oor die X-faktor,” het Hawies Fourie, Cheetahs-afrigter, gesê.

“Hy sal ons agterste driehoek versterk en die wedywering onder die spelers sal sterker as ooit wees.”

Specman se Bloemfontein-skuif beteken ook dat hy nie vir die Blitsbokke verlore sal wees nie.

“Die Toyota Cheetahs sal die vergunning maak sodat Rosko in sekere sewestoernooie mag speel. Hy sal vir die Olimpiese sewesgroep beskikbaar wees as hy die span haal.”

Intussen het die Cheetahs bevestig dat Sintu Manjezi (slot) voortaan sy rugby by die Bulls in Pretoria gaan speel.

Die 25-jarige sal op 1 Julie by Loftus Versfeld aanmeld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.