Ruan begin afrigtershoed by Cheetahs dra

Die Cheetahs se Ruan Pienaar. (Foto: X/Cheetahs)

Ervaring is nie iets wat gekoop kan word nie. En in Ruan Pienaar spog die Cheetahs met ʼn skatkis vol rugbywysheid.

Die 40-jarige voormalige Springbok se speeluurglas is weliswaar besig om leeg te loop, maar hy is besig om die afrigtersfluitjie nader te trek.

Pienaar is deel van die Vrystaters se o. 21- en akademie-afrigtersgroep waar hy ʼn ogie oor die spanne se agterspelers en aanvalsvernuf sal hou.

“Ek is opgewonde oor die nuwe rol en ek sien uit na die uitdaging en om meer oor dié faset van die spel te leer,” het die Springbok-veteraan met 88 toetse agter sy naam gesê.

Nodeloos om te sê is die Vrystaatse rugbybase ook in hul noppies met die verwikkeling.

Pienaar laat die bal na sy agterlyn loop. (Foto: Johan Pretorius/Gallo Images/Cheetahs/Facebook)

“Ruan beskik oor ʼn magdom ervaring en die Cheetahs is bevoorreg om hom in ons geledere te hê. Hy sal ook by al die professionele spanne betrokke wees en sy taak is om die spelers vaardigheidsgewys by te staan,” het MJ Smith, bedryfshoof van die Vrystaat Cheetahs, gesê.

Tussen sy nuwe pligte deur sal Pienaar nog in ʼn paar wedstryde vir die Cheetahs in die SA Beker-toernooi speel.

Hy het in Maart bevestig dat hy volgende maand sy stewels sal wegbêre.

“Ek wou al in Oktober my uittrede aangekondig het, maar is toe omgepraat. Ek voel egter dat die tyd nou reg is; ek dink die laaste twee maande daaraan om op te hou,” het die ervare agterspeler destyds gesê.

Hy lewer egter steeds kookwaterspel – soos wat sy vertoning in die jongste Curriebeker-eindstryd teen die Pumas onderstreep.

Pienaar was die argitek van die Vrystaters se sukses met sy taktiese skopwerk, kalmte onder druk en vermoë om die bal na sy gevaarlike agterlyn uit te gee.

Om dan nie eens te praat van sy komkommerkoel en in die kol stelskoppoging teen Griekwas in die aanloop tot die eindstryd nie.

Gʼn wonder hy is vroeër as die Curriebeker-speler van die jaar by SA Rugby se toekenningsgeleentheid in Johannesburg aangewys nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.