Ruan en Bismarck hou Franse telbord aan die rol

Bismarck du Plessis en Ruan Pienaar. (Foto: Montpellier Rugby)

Montpellier se Springbokke Ruan Pienaar en Bismarck du Plessis het in die jongste ronde Franse ligawedstryde die telbord aan die rol help hou.

Hul span het Castres met 45-7 in die Franse Top14-reeks afgeransel.

Pienaar (skrumskakel) en Du Plessis (haker) het onderskeidelik 17 punte (vier doelskoppe en drie strafdoele) en twee drieë vir Montpellier op die telbord geplaas.

Nico Janse van Rensburg (slot), wat Superrugby vir die Bulls gespeel het, het ʼn drie gedruk, en nog ʼn Bok, Frans Steyn (losskakel), het met ʼn strafdoel geslaag.

♦ Die Blitsbok en gewese SA o.20- en Stormers-speler Cheslin Kolbe (linkervleuel) het twee drieë vir Toulouse in sy sege van 37-33 oor Stade Français gedruk.

Sy spanmaat Wandile Mjekevu (binnesenter) het ook ʼn slag agter die doellyn gaan kuier. Hy het SA o.20 verteenwoordig, en Vodacombekerrugby vir die Goue Leeus en die Sharks se vyftientalle gespeel.

♦ Die Bok Pat Lambie (losskakel) het ʼn drie en ʼn strafdoel tot Racing 92 se sege van 24-22 oor Lyon bygedra.

♦ Jandré Marais (slot), wat Superrugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn drie vir Bordeaux Bègles teen La Rochelle gedruk.

Laasgenoemde het die kragmeting met 31-20 gewen.

Franse D2-liga

♦ In die Franse D2-liga het Grenoble se Burton Francis (losskakel) twee doelskoppe en drie strafdoele (nege punte) teen Carcassonne aangeteken.

Hy het Superrugby vir die Bulls, die Lions, die Stormers en die Cheetahs gespeel.

Grenoble het met 30-5 gewen.

♦ Nevers se Nemo Roelofse (plaasvervanger-stut) – hy het Curriebekerrugby vir die Suidwestelike Distrikte gespeel – het ’n geelkaart teen Narbonne op die lyf geloop.

Sy span het die wedstryd met 47-24 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.