‘Ruan is die toekoms’ – Jake

Foto: GB Jordaan.

Ruan Nortjé sal die Bulls op die veld lei wanneer hulle môre teen die Ospreys op Loftus Versfeld kragte meet.

Die 24-jarige lynstaanbreker sal die kapteinskapleisels by Marcell Coetzee oorneem, terwyl Pretoria se rugbyringkoppe vir Harold Vorster en Johan Goosen as sy adjudante aangewys het.

“Ek dink Ruan is die toekoms van die span. Hy is nog jonk, sy spanmaats het respek vir hom en hy verdien ongetwyfeld sy plek in die vyftiental,” het Jake White (afrigter) gesê.

Volgens die uitgeslape breier is dit lekker om ʼn speler soos Nortjé in die groep te hê en hy is vol vertroue dat die jong slot in sy nuwe rol sal skitter.

Hoewel die Ospreys 13de op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer is, sal hulle dinge beslis nie maklik vir die tuisspan wil maak nie.

Russell Winter (voorspeler-afrigter) het juis vandeesweek gesê dat Wallis een van die trotsste rugbylande ter wêreld is en sy spanne sal beslis met beter vertonings vorendag wil kom.

Ruan Nortjé rank hoog. Foto: GB Jordaan.

“Boonop was die Ospreys nog altyd ʼn goeie span met gedugte spelers terwyl iemand soos Alun Wyn Jones nog ʼn reuse-invloed op die spelers het. Dinge kan te eniger tyd vir hulle in plek val en ons sal daarvoor gereed moet wees,” het Winter gesê.

Die wedstryd skop Saterdagmiddag om 15:00 af en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls: Wandisile Simelane (heelagter), David Kriel (regtervleuel), Lionel Mapoe (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Stravino Jacobs (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), WJ Steenkamp (flank), Nizaam Carr (flank), Ruan Nortjé (kaptein en slot), Janko Swanepoel (slot), Francois Klopper (stut), Bismarck du Plessis (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Jan-Hendrik Wessels, Simphiwe Matanzima, Mornay Smith, Ruan Vermaak, Cyle Brink, Zak Burger, Morné Steyn en Marco Jansen van Vuren.

Hoe sake op die VRK-punteleer staan:

  1. Leinster 33 punte
  2. Ulster 25 punte
  3. Bulls 24 punte
  4. Stormers 24 punte
  5. Edinburgh 22 punte
  6. Cardiff 17 punte
  7. Glasgow Warriors 15 punte
  8. Sharks 15 punte
  9. Lions 15 punte
  10. Dragons 15 punte
  11. Benetton 14 punte
  12. Connacht 13 punte
  13. Ospreys 13 punte
  14. Munster 12 punte
  15. Scarlets 9 punte
  16. Zebre 4 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.