Ulster se Springbok-skrumskakel, Ruan Pienaar, het sy terugkeer na die Europese Pro12-liga met `n dawerende knal aangekondig.
Op Kingspan in Belfast het hy 17 punte tot die Ierse provinsie se sege van 37-17 oor die Skotse superklub Glagow Warriors behaal.
In sy eerste wedstryd vanjaar nadat hy van `n besering herstel het, het Pienaar `n drie gedruk en drie doelskoppe en twee strafdoele in punte omskep.
Brandon Thomson, die gewese SA o.20-losskakel wat deur die Stormers aan Glasgow geleen word, het as heelagter `n drie en `n doelskop vir die Skotte behaal.
In nog `n wedstryd in die Europese Pro12-liga het Hanno Dirksen, `n seun van die Gasel-losskakel Hansie Dirksen, `n drie vir die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) teen die Ierse provinsie Munster gedruk.
Die Iere, wat deur die Springbok Rassie Erasmus gebrei word, het 25-23 gewen.
Dirksen, met 32, is nou vyfde op die Ospreys se lys van topdriedrukkers van alle tye, en hy is in `n fel mededinging gewikkel met die skrumskakel Rhys Webb, wat met 33 vierde is.