Rugby: Argentynse Poemas se dae dalk getel

Augustin Creevy het met vuur en passie vir die Jaguares gespeel. Foto: Facebook.

ʼn Mens wonder hoe sou dr. Danie Craven daaroor gevoel of opgetree het as jy na die warboel kyk wat daar nou in Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, heers oor die voortbestaan van die Superreeks en Rugbykampioenskap.

Die dae van Superrugby kan getel wees, die Rugbykampioenskap in sy huidige formaat is besig om dalk sy laaste asem uit te blaas en Argentinië (asook Japan) word op die ashoop gegooi.

Dis nou elke man (en land) vir homself.

Een van Dok Craven se grootste dryfvere was om rugby in Argentinië te ontwikkel, om van hulle ʼn krag te maak, om te sorg dat die Poemas ʼn vastrapplek in wêreldrugby kry.

Dit het ʼn werklikheid geword, veral toe Sanzaar die Jaguares van 2016 af in ʼn vergrote Superreeks laat speel het en die Poemas een van die vennote in die Rugbykampioenskap geword het.

Maar die mat is heel waarskynlik onder hulle uitgepluk, want die Argentynse spelers is reeds aangeraai om beter weivelde te gaan soek, om ander keuses te oorweeg.

Waar die Japanse maatskappye hul plaaslike spanne besit en die wêreld se beste spelers lok om in die Japanse liga te speel, het die doodsklok vir Argentinië gelui.

Boonop het Agustin Pichot, wat hul spreekbuis in Wêreldrugby was, ook die handdoek ingegooi.

Wie gaan nou na die belange van Argentinië omsien: Billy Beaumont, Bernard Laporte, Sanzaar?

Nee wat, oor ʼn paar jaar kan ons geslag straks aan die volgende geslag vertel hoe ons in die middel van die nag gekyk het hoe ons spanne teen die Poemas of Jaguares gespeel het.

Suid-Afrika het altyd ʼn sagte plekkie vir Argentinië gehad, want die eerste Junior Springbokspan, wat deur Joe Nykamp aangevoer is, het reeds in 1932 deur Argentinië getoer, met Paul Roos as bestuurder.

Die span het al agt sy wedstryde gewen en in die twee “toetse” amok met 42-0 en 43-3 gemaak.

Die Junior Bokke se volgende besoek was in 1958, toe Peter Allan die kaptein was en Kobus Louw die bestuurder. Die Junior Bokke het 456 punte in 13 wedstryde aangeteken en die twee “toetse” met 14-6 en 20-6 gewen.

Die eerste Argentynse toerspan was in 1965 na Suid-Afrika. Die span, wat maande lank in Argentinië deur Izak van Heerden help brei is, het die Junior Bokke op Ellispark geklop.

Van 1980 af het die Springbokke agt keer teen die Suid-Amerikaanse Jaguars gespeel (dit was maar eintlik die Argentynse span) en het sewe toetse gewen, met die Jaguars wat in 1982 die tweede toets met 21-12 gewen het. Dít nadat die Bokke die eerste toets die week vantevore met 50-18 aan die wenkant was.

Dit was een van die grootste skokke in wêreldrugby, want die hele Bokspan was die vorige jaar in Nieu-Seeland toe hulle die All Blacks laat klippe kou het.

Sedert 1993 het die Springbokke en Argentinië 30 keer slaags geraak, die Bokke was 26 keer aan die wenkant, een toets het gelykop geëindig en die Poemas het drie daarvan gewen.

Maar nou kan daardie kraan toegedraai wees met net mooi herinneringe aan Argentynse rugby wat oorbly.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.