Rugby: Bokke se groepstelsel gee deurslag

(Foto: Hansie Linde)

Springbok-afrigter Jacques Nienaber reken die span se groepstelsel was ʼn reusefaktor in die oorwinning van 32 – 12 oor Argentinië in hul openingswedstryd van die Rugbykampioenskap.

Die Bokke het tien veranderinge aan die beginspan gemaak as deel van die groter plan om ʼn taai wedstrydskedule te bestuur. “Ons speel vyf groot toetse na mekaar. Die nuwe ouens was vars,” het Nienaber tydens ʼn aanlyn nuuskonferensie gesê.

Die spelers wat nie in die wedstrydgroep was vir die eerste wedstryd teen Argentinië nie, het wel ʼn aktiewe rol gespeel in die voorbereidings vir die wedstryd.

“Ek hou nie van die woord ‘rus’ nie. Die spelers wat nie vandag in die beginspan was nie, het nie gerus nie. Hulle het ʼn rol gehad om te speel in die span se voorbereiding. Dis nie dat hulle minder oefen nie. Hulle speel net ʼn ander rol.”

Nienaber sê daardie rol was om Argentinië te wees in wedstryd-simulasies in die aanloop tot die toets.

“Ons het nou eers ʼn derde van ons seisoen agter die rug. So ons sal slim te werk moet gaan in hoe ons probeer om spelers vars te hou.”

Nienaber het die spelers geprys vir hulle fokus na die reeksoorwinning oor die Britse en Ierse Leeus. “Ons het Sondag ʼn paar biere gedrink. Ons het dit geniet, maar ons het geweet ons gaan reguit in die Rugbykampioenskap in. Die werk wat die spelers ingesit het, was uitstekend.”

Julian Montoya, Argentinië se kaptein, het gesê hulle sal hierdie week hard moet werk voor volgende Saterdag se tweede toets. Hy het veral verwys na die vaste fasette en sy span se skoptaktiek. Soos gewoonlik het die Poemas se dissipline hulle in die steek gelaat en die wedstryd kon weens ʼn horde strafskoppe aan albei kante, nooit behoorlik op dreef kom nie.

Die Bokke se werklike uitdaging begin wanneer hulle Australasië toe vertrek vir twee toetse elk teen Australië en die All Blacks. Die kanse bestaan dat al daardie toetse in Australië sal plaasvind weens Covid-19-kwarantynmaatreëls. Ten minste sal die Bokke dan die All Blacks pak sonder dat die Nieu-Seelanders tuisveldvoordeel het of die voordeel van ʼn tuisskare.

Die eerste toerwedstryd is teen Australië in Sydney op 12 September.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anthony ·

NZ & Aus het goed gelyk Saterdag, manne het mooi hardloop rugby gespeel. NZ het daai laaste drie gedruk met amper 84 min op die klok. Nie een van die spanne wou uitskop nadat die alarm gegaan het nie….. dit wys commitment in my opinie….ek glo die bokke sou onmiddelik uitskop as hul voor was. Ons het darem meer gehardloop teen Arg waaroor ek bly was. Herchel Jantjies kon vroeer af dalk, mis ge vang, mis ge pass, mis ge skop…..dalk 1st game jitters….. Wiese was massief, great game gehad

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.