Rugby: Britse en Ierse Leeus-toere goud werd

Die Suid-Afrikaanse skeidsregter Jonathan Kaplan tydens die derde toets van die reeks tussen die Britse en Ierse Leeus teen die All Blacks (2005) (Foto: Kiwi Flickr – Kiwi Flickr via Wikimedia Commons)

ʼn Toer deur ʼn Britse en Ierse Leeus-toerspan deur enige land is die hartklop en slagaar van rugby.

Ja, die Bokke se 91 toetse teen die All Blacks sal altyd ʼn sagte plekkie hê, maar dit het afgewater geraak, want te veel van ʼn goeie ding is ook nie die antwoord nie.

ʼn Leeus-toer vind net so elke tien jaar plaas. Dit is die gans wat die goue eiers lê, die maatstaf om te bepaal of die Noordelike of Suidelike Halfrond in beheer is.

Suid-Afrika het op 30 Julie 1891 sy toetsstatus teen die Britse tuisunies gekry en het sedertdien in 13 toetsreekse agt keer die septer geswaai. In 46 toetse was die Springbokke 23 keer aan die wenkant, die Britse en Ierse Leeus 17 keer, terwyl ses toetse gelykop geëindig het. Die Bokke het 600 punte aangeteken en die Leeus 516.

Dis hoekom vanjaar se toer, ondanks die kloue van die Covid-19-pandemie wat ingeslaan het, so belangrik is, want as die toer nie plaasvind nie, sal dit die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) finansieel op sy knieë dwing.

Die Leeus-toer word gewoonlik in die raadsaal gewen, daar waar die afrigter, kaptein en spanbestuur gekies word. Dis glad nie maklik nie, want die vier tuisunies sit nie om dieselfde vuur nie. Die Walliesers, Iere en Skotte is nog verdraagsaam teenoor mekaar, maar wanneer ʼn paar Engelse ook in die drukpot gegooi word, is dit ʼn resep vir mislukking.

Dis hoekom dit so belangrik is om vroeg raak te vat, om te sorg dat die span van die begin af jel, om nie toe te laat dat daar kant gekies word nie, dat vooroordele eenkant toe geskuif word, want voortrekkery mag glad nie geduld word nie.

Dis hoekom vanjaar se afrigter, Warren Gatland, beplan om ʼn tiendaagse oefenkamp in Guernsey te hou, om spangees voor die toer te bou.

As ʼn mens die Britse en Ierse Leeus-toere sedert die Tweede Wêreldoorlog as ʼn maatstaf neem, het vier slotte (Willie John McBride, Billy Beaumont, Martin Johnson en Paul O’Connell) die span op sy laaste vier toere aangevoer.

Soos sake nou staan, is die Walliese veteraan-slot Alun Wyn Jones die groot gunsteling om vanjaar se span aan te voer. Hy sal die hoofkeuse van Gatland wees, iemand wie hy kan vertrou, wat al die ervaring besit, wat die spelers kan saamsnoer.

Kom ons kyk hoe die Leeus sedert 1955 gevaar het.

1955: Die span is deur die Ier Robin Thomson aangevoer en het die reeks met 2-2 gedeel. Die Leeus het die eerste keer (met ʼn propeller-vliegtuig) na Suid-Afrika gevlieg en hoewel die vlug 36 uur geduur het en dit ses keer op verskeie lughawens moes aandoen, is die toer met langer as ʼn maand verkort omdat die span nie per boot hierheen en terug Engeland toe gereis het nie.

Daar was ook geen afrigter nie en Thomson het dié takie sommer waargeneem. Daar is ook geen speler ouer as 24 (behalwe Thomson) gekies nie.

1962: Die Leeus se keurders het besef om die Bokke te klop, moet hulle die swaarste en grootste pak kies. Dan het hulle op die vlugvoetige Engelse losskakel Richard Sharp staatgemaak om die Bokke agterlangs flenters te hardloop.

Maar die planne het almal geboemerang, want die Bokke het byvoorbeeld vir Mof Myburgh as teenvoeter gebruik en Frik du Preez in die eerste toets op flank ingespan. Boonop het Mannetjies Roux het Sharp se wangbeen met ʼn plettervat gebreek. Die Bokke het die reeks met 3-0 gewen met een toets gelykop.

1968: Die Walliese losskakel Barry John moes die angel van die span wees, maar toe breek hy sy sleutelbeen en die Leeus se kanse spoel daarmee weg. Die Ierse heelagter Tom Kiernan het die span aangevoer en die Leeus is met 3-0 deur die Bokke afgeransel met een toets gelykop.

1974: Die Ierse slot Willie John McBride het die “Onoorwonlikes” aangevoer en die toetsreeks met 3-0 gewen. Die span word steeds beskou as die beste wat nog teen die Bokke opgedraf het en het die toetse met 12-3, 28-9, 26-9 gewen, terwyl die laaste met 13-elk gelykop geëindig het.

1980: Die span is erg deur beserings gekortwiek en het met 3-1 slae gekry. Billy Beaumont was die kaptein. Die kern van die Bokspan het in 1981 in Nieu-Seeland byna-byna die All Blacks ore aangesit.

1997: Na ʼn afwesigheid van 17 jaar het Martin Johnson die span aangevoer wat deur die twee Skotte Ian McGeechan (hoofafrigter) en Jim Telfer (voorspelerafrigter) gebrei is. Hulle druk slegs drie drieë teenoor die Springbokke se nege, maar die skopskoen van die Walliese losskakel Neil Jenkins (hy het heelagter in die toetse gespeel en 41 punte aangeteken), het die Bokke geknak.

2009: Die Ier Paul O’Connell voer die span aan teen een van die beste Springbokkespanne ooit. Die Bokke wen die reeks met 2-1. Fourie du Preez, Jean de Villiers, Beast Mtawarira, Bismarck du Plessis, Victor Matfield, Bakkies Botha, Juan Smith, Heinrich Brüssow en Schalk Burger was die sterre van die Bokspan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Ek het jare terug besluit om nie meer Suid-Afrikaanse nasionale sport spanne te ondersteun nie agv van die raskwota stelsel wat in SA sport geld. Veral die kwotas op skole vlak, op kinders (die sogenaamde ‘free borns’ gebore na ’94) grief my.
Nou is ek op die stadium ek boikot alle SA Nasionale sport spanne om die rede. En tans tydelik in die buiteland gevestig verkondig ek dit wyd en suid.
En nee, dit is nie ek wat politiek in die sport inbring nie, dit is die regering.
Kwotas is rasse diskriminasie, en die wereld moet weet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.