Rugby: Bulls skrik rustyd wakker teen Cardiff

Foto: URCOfficial/Twitter

Wat ook al afrigter Jake White rustyd vir die Bulls gesê het, het die manne van Pretoria wakker geskud in die Verenigde Rugbykampioenskap. Ná twee nederlae het die Bulls die bordjies verhang en Cardiff 29-19 geklop.

Maar daar sou baie Bulls-ondersteuners wees wat teen rustyd eerder in die bed gaan klim het. Die telling was 16-3 in Cardiff se guns en dit het gelyk soos nog ʼn teleurstellende naweek. Die spelers het tam gelyk en is by die afbreekpunte geklop. Boonop is losskakel en planmaker Johan Goosen vroeg van die veld af met ʼn ernstige kniebesering.

Slot Matthew Screech het Cardiff se enigste drie in die eerste helfte gaan druk en Rhys Priestland het die res van die Walliesers se punte met die skopskoen aangeteken.

Die gety het drie minute na rustyd gedraai toe agsteman Elrigh Louw van ʼn strafskop af oorgeduik het vir die besoekers se eerste drie. Chris Smith het die strafskoppe ingeryg en uiteindelik 19 van die Bulls se punte aangeteken.

Vleuel Madosh Tambwe het ʼn verbroude aangee van Cardiff veld-af geskop om die Bulls se tweede drie te gaan druk.

Cardiff kon in die tweede helfte net 3 punte teen die Bulls se 26 punte aanteken. Dit wys hoe die besoekers die wedstryd na rustyd totaal oorheers het.

Die vlugvoetige Kurt-Lee Arendse het gevaarlik gelyk elke keer wat hy die bal gedra het. Hy is beloon met die toekenning as Speler van die Wedstryd.

Die Bulls speel volgende Saterdag teen Edinburgh en dan kom die span huis toe. Die eerste tuiswedstryd in Pretoria is op 27 November teen Munster.

Die spelers van die Sharks was gisteraand langs die veld – nie net om die Bulls te ondersteun nie, maar ook om te kyk hoe Cardiff speel want dit is die Sharks se volgende teenstander.

Puntemakers:

Cardiff 19 (16)
Drieë: Matthew Screech
Doelskoppe: Rhys Priestland (1)
Strafskoppe: Rhys Priestland (4)

Bulls 29 (3)
Drieë: Elrigh Louw, Madosh Tambwe
Doelskoppe: Chris Smith (2)
Strafskoppe: Chris Smith (5)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Hier is ‘n paar manne wat goed sal vaar in groen en goud. Chris Smith se skopskoen is dodelik!

MakersMark ·

Uitstekende 2 de helfte. En ander SA spanne baie beter gedoen. Doemprofete wat vertel SA spanne sal die melk koeie wees van die reeks dink weer. Net ‘n kwessie van aanpas en dan gaan die europese spanne moet kompeteer met veral die SA spanne se kragtige voorspeler spel.

Spearhead ·

Uitstekend terug gekom in die 2de helfde, inagenome ‘n paar vreemde beslissings wat gemaak was.
Sterkte vir die volgende rondte.

SjN ·

Mooi Bulle, ek glo daar is n paar kragwoorde gebruik halftyd, kon die verandering duidelik sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.