Rugby: Duane se drie help Ulster wen

Duane Vermeulen in aksie vir Ulster (Desember 2021) Foto: Twitter.

Springbok-staatmaker Duane Vermeulen het ʼn drie gedruk om Ulster te help om hul Kampioenebeker-wedstryd teen die Franse span, Clermont Auvergne, 34-31 te wen. Nog ʼn Suid-Afrikaner, die 23-jarige Jacobus van Tonder, het ook vir die verloorspan ʼn drie gaan druk in hul terugvegpoging.

Ulster het in die tweede helfte 34-12 voorgeloop, voordat die Franse span vlam gevat het. Drie drieë deur Van Tonder, Alivereti Raka and Judicael Cancoriet het die tuisskare die skrik op die lyf gejaag.

In nog ʼn Kampioenebeker-wedstryd het die Bristol Bears vir Scarlets behoorlik getrap. Bristol het ses drieë gedruk en ʼn strafdrie ook gekry in hulle oorwinning van 52-21.

Dit was nie ʼn goeie naweek vir Oli Kebble se span, die Glasgow Warriors nie. Hulle het 30-38 verloor teen Stade Rochelais en moet nou op ander uitslae staatmaak om vir die ronde van 16 te kwalifiseer.

Die oud-Cheetah-speler Raymond Rhule het een van die Franse span se drieë gedruk.

Die Suid-Afrikaanse stut, Johannes Jonker, se span Bath sal hulle wedstryd teen Leinster gou wil vergeet. Vleuel Jimmy O’Brien het vier van Leinster se tien drieë gedruk. Die eindtelling was 64-7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.