Rugby- en ʼn kriekettoets op dieselfde dag in SA

(Foto: pixabay)

Jare gelede, toe rugby nog in die wintermaande tussen April en September gespeel is en die krieketseisoen tussen Oktober en Maart gestrek het, was daar ʼn baie deurmekaar Maartmaand.

Rugby- en kriekettoere na Suid-Afrika was maar baie skraps, maar in 1982 was daar op dieselfde tyd ʼn  internasionale rugby- én kriekettoer.

Dit was holderstebolder, veral omdat die Engelse rebelle-kriekettoerspan van Graham Gooch, wat die “Dirty Dozen” in die Britse media en Britse parlement gedoop is, agt wedstryde op toer gespeel en dit met die Suid-Amerikaanse Jaguars se rugbytoer oorvleuel het.

Die kriekettoer het tussen 3 en 29 Maart plaasgevind en die rugbytoer tussen 13 Maart en 3 April.

Die kriekettoer het drie eendagwedstryde teen die Springbok-krieketspan ingesluit asook drie vierdaagse “toetse” wat Suid-Afrika met 2-0 gewen het.

Terselfdertyd het die Suid-Amerikaanse Jaguars, ʼn toerspan wat uit 42 spelers van Argentinië, Chili, Uruguay en Paraguay bestaan het, sewe wedstryde op toer gespeel, wat twee toetse ingesluit het.

Onthou ook dat die SAUK die enigste televisiestasie was, want M-Net is eers in 1986 begin en die wedstryde het maar karige TV-dekking gekry.

Die laaste nie-amptelike kriekettoets is van 26 tot 29 Maart op Kingsmead in Durban beslis.

Dié saai wedstryd het onbeslis geëindig, nadat Suid-Afrika 181/9 en 143/2 in sy kolfbeurte aangeteken het nadat Engeland 311/8 in sy enigste kolfbeurt aangeteken het.

Die Engelse aanvangskolwer Geoff Boycott het, terwyl die Springbokrugbyspan op Loftus Versfeld baljaar het en die Jaguars, wat deur Hugo Porta aangevoer is, met 50-18 verflenter het, in die laaste sessie ʼn skamele vyf lopies aangeteken.

Praat van toeskouers krieket toe lok!

Die week nadat die Engelse huis toe gekeer het, het die Springbokke en Jaguars mekaar in die tweede toets in Bloemfontein voor slegs 21 000 toeskouers gepak en is die Bokke met 21-12 geskok.

Dit was ʼn baie sterk Springbokspan, want al 15 spelers in die opdrafspan was in 1981 in Nieu-Seeland.

Porta het al 21 punte vir Suid-Amerika aangeteken en dit bly een van die grootste skokke in wêreldrugby, veral nadat die Bokke amok in die eerste toets gemaak het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae