Rugby: Esterhuizen help Harlequins wen

Argieffoto van André Esterhuizen (Foto: André Esterhuizen, Twitter)

Suid-Afrika se makro-senter André Esterhuizen het ʼn drie gedruk en die deurslaggewende aangee uitgevoer om ʼn ander drie te skep om Harlequins te help om Wasps 29-24 in Londen te klop.

Harlequins is in die derde plek op die punteleer van die Engelse Premierliga. Wasps is nou in die sewende plek.

Springbok Jasper Wiese het ook ʼn drie gedruk vir die Leicester Tigers in hulle oorwinning van 24-20 teen Bath. Die Tigers was vroeg in die wedstryd 14-5 voor, maar Bath het teruggeveg en rustyd 20-14 voorgeloop.

Met talle spelers wat diens doen vir Engeland het dit kans gegee vir Francois van Wyk om in die beginspan te wees en Hanro Liebenberg was op die plaasvervangerbank van die Tigers.

Die Tigers se losskakel Freddie Burns het nog ʼn drie gaan druk en verdoel en met 20 minute oor was heelagter Bryce Hegarty suksesvol met ʼn strafskop pale toe om die telling 24-20 in die besoekers se guns te swaai.

Nog ʼn Suid-Afrikaner Rohan Janse van Rensburg het die wendrie gaan druk in die Sale Sharks se 22-21 oorwinning teen Northampton Saints. Sale Sharks is nou sesde op die punteleer.

Die Suid-Afrikaner Juarno Augustus het die Saints se eerste drie gedruk.

Die voormalige Cheetah Benhard Janse van Rensburg het twee drieë in die eerste helfte vir London Irish gedruk in hulle oorwinning van 32-30 teen Saracens.

London Irish is vyfde op die punteleer en Saracens tweede.

Saracens was met twee minute speeltyd oor 30-29 voor, maar Paddy Jackson het met ʼn suksesvolle strafskop gesorg sy span glimlag breed.

Vanmiddag 17:00 speel die Newcastle Falcons teen Exeter Chiefs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.