Rugby: Faf en kollegas vandag in aksie

Faf de Klerk in aksie vir die Sale Sharks. (Foto: Xavier Leoty/AFP)

Daar is vandag heelwat Suid-Afrikaanse belangstelling in die laaste kwarteindstryd in die Heineken-kampioenebeker tussen Sale Sharks en Racing 92.

Faf de Klerk, Akker van der Merwe, Lood de Jager, Jean-Luc du Preez, Jono Ross, Dan du Preez en Robert du Preez is in die Sale Sharks se beginspan. Jasper Wiese, Coenie Oosthuizen en Rohan Janse van Rensburg is boonop op die plaasvervangerbank. Afskoptyd is 16:00 Suid-Afrikaanse tyd.

Sale Sharks het hulle laaste tien wegwedstryde in Frankryk verloor.

In die Europese Uitdaagbeker was dit nie ʼn goeie naweek vir spanne wat ook in die Verenigde Rugby-kampioenskap speel nie. Wasps het Edinburgh in een van die kwarteindstryde 34-30 geklop. In die ander kwarteindstryd wat gister gespeel is, het Glasgow Warriors 27-35 die knie gebuig teen Lyon. Vrydag het Saracens vir Gloucester 44-15 getrap.

Vanmiddag 13:30 Suid-Afrikaanse tyd speel Toulon teen London Irish in die laaste kwarteind. Marcel van der Merwe is in London Irish se beginspan.

Dit gebeur nie sommer nie. Rugbywedstryde eindig mos nie gewoonlik soos sokkerwedstryde met strafdoele nie. Maar dis presies wat gebeur het in die Heineken-kampioenebeker in Europa.

Toulouse en Munster se kwarteindstryd het na gewone speeltyd 24-24 geëindig en 20-minute se ekstra speeltyd het ook nie ʼn uitslag opgelewer nie. Daar moes toe pale toe geskop word om die uitslag te bepaal. Toulouse het die valbylstryd toe met 4-2 gewen nadat Thomas Ramos, Antoine Dupont (2) en Romain Ntamack hul skoppe deur die pale gejaag het.

Leinster kom in die halfeindstryd teen Toulouse te staan nadat die Ierse span die Leicester Tigers 23-14 geklop het. Die tweede helfte was ʼn gesukkel nadat Leinster reeds rustyd 20-0 voorgeloop het.

In nog ʼn kwarteindstryd het La Rochelle vir Montpellier 31-19 geklop nadat hulle rustyd 17-7 voorgeloop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.